Video: Rabada lyk na die angel in SA boulaanval vir Wêreldbeker

Kagiso Rabada. Foto: Cricinfo.

Om ’n rits T20-wedstryd in Indië te speel, is waarskynlik nie die beste voorbereiding vir die Eendag-wêreldbeker later vanjaar in Engeland nie.

Die twee lande se kolfblaaie en weerstoestande verskil onder andere soos dag en nag van mekaar, terwyl kolwers in eendagbeurte meer tyd het om vennootskappe te bou as in die gejaagdheid van mik-en-moker-krieket.

Tog het Kagiso Rabada gewys dat slim en aggressiewe boulwerk altyd sal vrugte afwerp; maak nie saak of dit op ’n groen blad in Londen of op ’n amperse grondpad in Delhi is nie.

Die jong Protea-blits is tans die voorste bouler in vanjaar se IPL met sy 11 paaltjies in ses wedstryde vir die Delhi Capitals.

Gister het hy 4/21 teen die Royal Challengers Bangalore geneem en hoewel Virat Kohli se Challengers ongelooflik in die reeks sukkel, het Rabada steeds onder andere van wêreldklas-kolwers ontslae geraak.

Hy het AB de Villiers uitoorlê met ’n slim stadiger aflewering, terwyl Kohli ook terug na die kleedkamer gestuur is.

Vroeër het hy 10 lopies in ’n super‑boulbeurt teen die Kolkatta Knight Riders verdedig. Hy het ’n rits streepballe in ’n ry afgestuur en met ’n pragaflewering van die gevaarlike Andre Russell ontslae geraak.

Veral sy vertoning teen die einde van die kolfbeurt sal vir Ottis Gibson (Protea-breier) laat glimlag. Rabada het 10 paaltjies teen 8,65 lopies per beurt geneem in die tydperk wanneer opposisie-kolwers tradisioneel die lopienaald in die rooi probeer druk.

“ ’n Streepbal kan gesien word as ’n aflewering wat moeilik is om reg te kry, veral wanneer die druk hoog is,” het Rabada aan www.cricinfo.com gesê.

“Tog is dit eintlik baie eenvoudig [om reg te kry]. Al wat jy moet doen, is om dit te oefen.”

En met die Wêreldbeker om die draai, sal plaaslike krieketondersteuners hoop Rabada kan sy goeie spelpeil vir die Delhi Capitals ook vir die Proteas voortsit. Hy moet aanhou oefen aan sy streepbal-aflewering.

  • Sy statistiek:

Ses wedstryde, 11 paaltjies teen ’n gemiddeld van 15,90 lopies per paaltjie en hy staan 7,55 lopies per boulbeurt af.

  • Imran Tahir – wat vir die Chennai Super Kings speel – het ook ’n goeie toernooi. In vyf kragmetings het hy sewe paaltjies teen ’n gemiddeld van 13,85 geneem.
  • AB de Villiers is tans die voorste SA kolwer in dié toernooi.

https://youtu.be/hd4Wr7iZzIY

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

6 Kommentare

JK ·

En dan choke ons, dan gaan faf se verskonings begin met 1.IPL, 2.Die Pitch, 3. Die buiteveld. 4.Die Travel. 5. Die groep waarin SA speel. 6. Die Bal, 7. Die umpire. 8.Die weer.

bollie ·

Hy sal sê hulle het baie geleer uit die ondervinding om weer uitgeskakel te word. LOL

Karin ·

@JK, ek wonder ook of Faf al aan nuwe verskonings begin dink het.

Leeu ·

Maak nie saak nie, Saffas gaan weer choke. NZ vs ENG final. SA gaan uitval teen of Aus of WI.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.