Beserings is niks nuuts vir Dale Steyn nie.
Die blitsbouler, wat van Vrydag af op Nuweland in die eerste toets teen Indië in sy eerste volwaardige eersterangse wedstryd in meer as ʼn jaar gespeel het, is nou wéér vir tussen vier en ses weke van die veld.
Dit is die vierde keer sedert 2015 dat hy tydens ʼn toetsreeks beseer is en nie die reeks saam met die Proteas kon voltooi nie.
Steyn se (onverwante) beseringsprobleme het in 2015 al begin toe hy op toer teen die einste Indië drie van die vier toetse weens ʼn liesbesering misgeloop het. En toe die skouer …
Hierdie keer is dit sy hakskeen. Die weefsel is volgens die Proteas se spandokter/bestuurder Mohammed Moosajee “aansienlik” beskadig en die 34-jarige, wat op Nuweland weer na die ou, vurige Dale Steyn in sy ietsie meer as 17 boulbeurte gelyk het, mag dus tot om en by 20 Februarie buite aksie wees.
Dan begin die stryd en harde werk om behoorlik fiks te kom sodat hy op 1 Maart in die eerste van die drie toetse teen Australië kan speel.
Steyn het glo Saterdag met sy enkel in een van die voetmerke getrap en in die proses sy hakskeenweefsel ernstig beskadig.
Dit is geensins verwant aan te veel boulwerk of dat hy nie slaggereed vir groot krieket was nie, het Moosajee Saterdagaand ná die tweede dag se spel op Nuweland verseker.
Hy sê Steyn is uiteraard teleurgesteld, maar is vasbeslote om hierdie besering betyds te oorkom om die Aussies aan te durf.
Dit gaan om meer as net die verbetering van Shaun Pollock se boulrekord van 421 paaltjies vir Suid-Afrika, waarvoor Steyn nog drie paaltjies kort. Steyn is eenvoudig iemand wat homself dryf en sy eie doelwitte stel.
♦ Die skouerbesering wat hom sedert Desember 2015 in die eerste toets in die tuisreeks van Engeland gepla het, het hom toe die res van hierdie reeks van die veld gehou.
Hy het toe in Augustus 2016 in die tuisreeks teen Nieu-Seeland gespeel en saam met die Proteas na Australië getoer. Op die tweede dag van die eerste toets kon hy nie meer nie. Hy het sy skouer weer beseer en sou ses maande van die veld wees.
Die besering sou hom vir ten minste agt toetse van die veld hou: die oorblywende twee in Australië, drie teen Sri Lanka in Suid-Afrika en drie in Nieu-Seeland.
Dit was egter meer as dit. Hy het ook die verloorreeks verlede jaar in Engeland misgeloop en sedert sy operasie in November 2016 geen groot krieket gespeel nie.
En nou dit …
Wanneer gaan julle van Steyn vergeet? Waarom word hy gekies as hy nie volwaardige wedstryd oefenong gehad het nie en dan peaat ek nie van enkele boulbeurte nie. Dit is ook kenmerkend dat hy konstant beserings opdoen wanneer die boulers nie goed doen nie soos juis gister toe hulle nie die 8ste paaltjie so maklik kon plattrek nie.
Steyn se tyd is 4 jaar terug al verby!
Steyn, jy is klaar. Hy kon met n vorige beseering nie eens n T20 klaar speel nie, tyd om hom uit te laat vir fikse bowlers en nie poselynpoppe nie.
Tyd vir uittree grootseun!. Jy het ons uitstaande kykgenot verskaf!. Jy het jou kant gebring.
Ons almal weet dat hy nie meer behoort te speel nie, maar die kanse is goed dat hy vir die volgende toets WEER gekies sal word.