Virat meen AB is die beste van die era

AB de Villiers en Virat Kohli. Foto: Twitter.

AB de Villiers het skaars sy uittrede aangekondig, of die huldeblyke het op sosiale media begin instroom.

Jos Buttler, een van die beste kolwers by die afgelope T20-Wêreldbeker in die Verenigde Arabiese Emirate, het gesê die Suid-Afrikaanse kolwer het ’n ongelooflike loopbaan agter die blad.

“Wat ’n speler! Ek het net die TV aangesit om AB te sien kolf,” het die Engelse paaltjiewagter getwiet.

De Villiers was waarskynlik wêreldkrieket se grootste vermaaklikheidster en hy het gereeld met verstommende houe vorendag gekom.

“Ek dink ons boulers slaak beslis ’n sug van verligting. Baie dankie vir al die wonderlike herinneringe en dat jy soveel jong spelers geïnspireer het; ons sal Mnr. 360° mis,” het Rashid Khan, die Afghanistan-draaier, gesê.

Foto: Twitter.

Een van De Villiers se grootste ondersteuners en beste vriende is ongetwyfeld Virat Kohli. Die Indiese superster het in sy huldeblyk gesê dat die Suid-Afrikaner die beste besluit vir homself en sy gesin geneem het.

“Jy is die beste speler van ons era en die inspirerendste persoon wat ek nog ooit ontmoet het. Jy kan baie trots wees op wat jy bereik het en wat jy vir die Royal Challengers Bangalore gedoen het.”

De Villiers was uitstekend in die Indiese Premierliga en sy gewildheid het geen perke geken nie.

Hy het 25 keer (’n rekord) die speler van die wedstryd-toekenning ontvang, terwyl hy sy 3 403 lopies teen ’n ongelooflike treftempo van 151,68 in Indië geslaan het.

 Foto: Cricket World Cup/Twitter

Vir die Proteas het hy ook met ’n rits goeie vertonings vorendag gekom en Faf du Plessis het sy lof besing.

“Ek was baie bevoorreg om op dieselfde krieketveld as jy te wees. Die spel sal nie dieselfde sonder jou wees nie – die beste krieketspeler saam met wie ek gespeel het,” het die voormalige Protea-kaptein getwiet.

Een van De Villiers se sterk punte is dat hy dit lekker laat lyk het om krieket te speel. Soos wat Glenn Maxwell sê: “AB het krieket vir altyd verander”.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Nationalist ·

Pleks buig KSA die knieg vir AB!
Well done AB. Jy sal altyd een van die greats wees!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.