Virender besing AB se lof

AB de Villiers. Foto: Manjunath Kiran/AFP.

Hy mag dalk al 37 jaar oud wees, maar AB de Villiers speel steeds merkwaardige beurte.

Die voormalige Suid-Afrikaanse kaptein het in ses Indiese Premierliga-beurte 207 lopies teen ’n treftempo van 164,28 geslaan. Nie sleg nie vir iemand wat nie veel krieket in die aanloop tot die toernooi gespeel het nie.

Sedertdien besing verskeie oudspelers sy lof, terwyl sy moontlike internasionale terugkeer al hoe meer momentum kry.

“Internasionale ondersteuners kan dalk sukkel om sy doopname te onthou, maar ek weet nie of iemand ooit sal twyfel wie Mnr. 360° is nie,” het die oud-openingskolwer van Indië, Virender Sehwag, gesê.

De Villiers het bekendheid in die krieketwêreld verwerf vanweë sy ongekende vermoë om enige tyd lopies aan te teken; ongeag die bouler of die veldplasings.

Die Suid-Afrikaner het drie vyftigtalle in die toernooi gemoker – waaronder ’n skitterbeurt van 75 van slegs 42 aflewerings teen die Delhi Capitals – terwyl hy op ’n ander geleentheid vir André Russell met ’n harde slag terug aarde toe gebring het.

Russell is een van die voorste witbalkrieketboulers op die internasionale verhoog en hy het in die kleure van die Kolkata Knight Riders 5/15 teen die Mumbai Indians geneem.

Maar in die volgende wedstryd het die Wes-Indiese speler hom teen ’n veglustige De Villiers vasgeloop en veral een van die Suid-Afrikaner se grenshoue het krieketliefhebbers laat regop sit.

AB de Villiers. Foto: Twitter.

Russell het ’n baie vol aflewering buite De Villiers se wegpen van om die paaltjies afgevuur, waarna die sterkolwer op een of ander manier die bal in die gaping tussen die paaltjiewagter en die wye gangetjie na die grens gejaag het.

Sehwag meen dat min kolwers oor die Suid-Afrikaner se vaardighede beskik.

“AB de Villiers speel baie kere houe wat net hy in wêreldkrieket kan speel. Ek dink nie ’n mens hoef na verdere beskrywende name of selfs gedigte te soek om hom te beskryf nie. Mnr. 360° pas perfek by hom.”

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

2 Kommentare

jongste oudste gewildste
Sas

…..snaaks dat die media AB se lof so besing maar niks sê van Faf du Plessis wat baie meer lopies as AB slaan in die IPL nie….? Die CSK is ook die voorste span in die reeks. Snaaks…