Voormalige hulpafrigter neem tydelik leisels by Protea-vroue oor

Krieket Suid-Afrika (KSA) het onlangs Hilton Moreeng se uittrede aangekondig. (Foto: X)

Dillon du Preez, hulpafrigter van die Protea-vrouekrieketspan, sal tydelik die leisels by Hilton Moreeng oorneem.

Krieket Suid-Afrika (KSA) het onlangs Moreeng se uittrede aangekondig.

Moreeng was meer as 11 jaar by die nasionale span betrokke en was in 279 kragmetings by al drie formate aan die stuur van sake.

Onder sy leiding het die Protea-vroue aansienlike sukses behaal en 84 uit 149 eendagwedstryde gewen, met ʼn wenpersentasie van 56%. In T20-kragmetings het die span 60 oorwinnings uit 127 ontmoetings behaal, met een gelykopuitslag en twee nederlae in toetskrieket.

Die 46-jarige breier het die Suid-Afrikaners na amperse glorie gelei toe hy die eerste nasionale afrigter geword het om ʼn Wêreldbeker-eindstryd te haal. Dié prestasie is voorafgegaan deur twee halfeindstryde in 2014 en 2020.

In 50-boulbeurt-wêreldbekertoernooie het Moreeng se spelers in twee halfeindstryde by die Wêreldbeker vir vrouekrieket in 2017 en 2022 gespeel en by albei geleenthede teen Engeland verloor.

“Ek wil graag my opregte dank te kenne gee aan KSA en die bestuur wat die ongelooflike geleentheid aan my toevertrou het om die Protea-vroue se nasionale span af te rig. Dit was ʼn eer en ʼn voorreg om so ʼn talentvolle groep atlete oor die jare te lei,” het Moreeng gesê.

Hy het ook gesê dat afrigting op internasionale vlak ʼn buitengewone reis gevul met ontelbare onvergeetlike oomblikke en prestasies was.

“Hierdie ervarings sal vir altyd ʼn spesiale plek in my hart hou. Ek wil my opregte waardering betuig aan al die spelers en die spanbestuur wat instrumenteel in hierdie reis was. Ek is dankbaar dat ek die geleentheid gehad het om saam met elkeen van julle te werk. Ek wil ook die Suid-Afrikaanse aanhangers en die media bedank vir hul onwrikbare ondersteuning gedurende hierdie reis.”

Moreeng het ook sy familie en vriende wat hom bygestaan het, uitgesonder.

“Julle liefde en ondersteuning was my rots.

“Terwyl ek van hierdie rol wegstap, wil ek die span en almal wat betrokke is baie sterkte toewens in die toekoms. Die toekoms hou ongetwyfeld groot sukses en voorspoed vir almal in,” het hy afgesluit.

In ander veranderinge aan die Protea-vroue-afrigtingspan sal die fisioterapeut Molebatsi Theletsane ook sy pos ontruim, met Neline Hoffman Kellerman wat by die groep aansluit.

Die Warriors se hulpafrigter, Baakier Abrahams, is ook amptelik as die kolfafrigter aangestel, terwyl die Lions se Bongani Ndaba die rol van veldafrigter sal vervul.

Enoch Nkwe, direkteur van KSA, het Hilton vir sy bydrae tot vrouekrieket in Suid-Afrika bedank.

“Sy loopbaan word gekenmerk deur talle geskiedkundige oomblikke. Ons dra ons diep waardering oor vir sy onwrikbare toewyding en voorbeeldige leierskap, met erkenning van sy instrumentele rol in die vorming van die professionalisering van vrouekrieket in die land.”

Nkwe het volle vertroue in Du Preez met die komende internasionale opdragte wat die span aanpak.

“Ons het volle vertroue in Dillon se vermoëns om die momentum voort te sit en die standaarde wat vir die span gestel is, te handhaaf.

“Die proses om ʼn nuwe afrigter te werf is reeds aan die gang. Ons voorneme is om die beste kandidaat te vind om die Protea-vroue na groter hoogtes te neem.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.