‘Vreeslose’ Protea-vroue maak amok in Indië

Die Proteas se vrouekrieketspan wen deesdae die een wedstryd na die ander. Hulle het gister ook die T20-reeks teen Indië beklink. (Foto: Saeed Khan/AFP Photo)

Gedurende die 2007 Wêreldbeker-kriekettoernooi in die Wes-Indiese Eilande het Graeme Smith en Micky Arthur met die uitdrukking “vreeslose krieket” vorendag gekom.

Dinge het egter lelik in die halfeindstryd teen Australië skeefgeloop en selfs die rustige Jacques Kallis is skoongeboul toe hy vir Glenn McGrath wou stormloop.

Maar waar die Protea-mans klei getrap het, is Suid-Afrika se vrouekrieketspan tans besig om die vreeslose daad by die woord te voeg nadat hulle gister vir Indië in die tweede T20-kragmeting met ses paaltjies geklop het.

Sodoende het die Suid-Afrikaners die mik-en-mokerreeks ook beklink nadat hulle vroeër met die louere in die eendagreeks weggestap het.

Voordat die eerste T20-wedstryd begin het, kon die Proteas nog net twee van die nege kragmetings tussen die twee lande gewen het, maar na dese behoort die Indiërs nagmerries oor Lizelle Lee (70) en Laura Wolvaardt (53) se flitsende kolwe te kry.

Lee het as openingskolwer die grondslag vir die sege gelê, terwyl Wolvaardt koelkop gebly het om die wenlopies vanaf die laaste aflewering te slaan.

“Ons vlak van selfvertroue is nou daar waar ons wil hê dit moet wees. Ons weet dat ons vreeslose krieket kan speel en in T20-wedstryde is só ’n benadering goud werd,” het Suné Luus (kaptein) gesê.

Terselfdertyd het die span ook geleer dat hulle belangrike wedstryde sonder van hul groot sterre kan wen.

Dané van Niekerk en Chloe Tryon het die witbalkrieketreekse weens beserings misgeloop, terwyl die talentvolle Marizanne Kapp ook nie in die eerste twee T20-wedstryde in aksie was nie.

“Dit is wonderlike nuus vir die toekoms van ons krieket. Ons weet nou dat selfs wanneer ons sonder die dienste van spelers soos ’n Lizelle Lee of ’n Shabnim Ismail is, ons steeds kan wen.”

Die laaste wedstryd begin môre en om die reeks met 3 – 0 te beklink, klink net soveel beter as 2 – 1 .

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.