Vrot veldwerk, boulwerk en veral spankeuse kos Proteas die reeks

David Miller – sy skitterende beurt net-net nie genoeg nie. (Foto: Facebook cricketsa)

Suid-Afrika het Saterdag in Southampton die tweede eendagwedstryd met twee lopies teen Engeland en daarmee ook die reeks van drie wedstryde verloor.

Op ʼn dag van skandelike veldwerk deur die Proteas en boulwerk teen die einde wat net eenvoudig nie van internasionale gehalte is nie, het Quinton de Kock (98 in 103 balle), AB de Villiers (52 in 50 balle) en veral David Miller (71* in 51 balle, vyf viere, twee sesse) hul span letterlik deurgaans, tot met die aanbreek van die laaste beurt, voor die Engelse telling in die ooreenstemmende boulbeurte gehou.

Die foute van hulle veldwerk toe hulle nie minder nie as ses vangkanse verbrou het – drie darem uiters moeilik – en die eina-boulwerk teen die einde toe Engeland 78 in 40 balle geslaan het, was vergete toe Miller en Chris Morris hier teen die einde 62 lopies in 39 balle geslaan het.

Met drie boulbeurte oor, het hulle 33 lopies benodig. Met sewe balle oor was die teiken om te wen slegs sewe lopies ver.

Slim boulwerk en ʼn ongetwyfelde wydloper van die voorlaaste bal wat nie toegeken is nie, het gemaak dat die laaste boulbeurt net vier lopies opgelewer het.

Farhaan Behardien moet ook ʼn groot aandeel van die blaam dra. Nadat Quinton de Kock op 98 en die telling op 211/4 uit is, het Behardien hom by Miller kom voeg.  Hy het 25 balle aan sy 17 lopies geploeter en gekrap en weer nie oortuig dat hy op hierdie vlak hoort nie.

Hy het saam met Miller 55 lopies om die vyfde paaltjie in 45 balle aangeteken. Miller (en ekstras) se aandeel was 38 in 20 balle.

♦  Maar miskien is die wedstryd reeds met die spankeuse verloor. Die span is gelaai met veelsydige spelers wat almal maar bra middelmatig met kolf en bal is. Waar was Morné Morkel?

♦  Dit was veral opvallend hoe die boulers, Kagiso Rabada uitgesluit, in die laaste klompie beurte die kluts kwytgeraak het toe Engeland die lopies gejaag het om by 330 uit te kom.

In die  geheel was Rabada ook die beste  en bestendigste met 2/50 in sy tien beurte.

♦  Ben Stokes, wat met sy eerste twee balle voor die paaltjies twee keer misgevang is, deur Quinton de Kock (moeilike kans) en deur Hashim Amla (verspot-maklike kans) het voortgegaan en 101 in 79 balle met elf viere en twee sesse geslaan. Sy honderdtal het van 77 balle gekom.

Met hierdie soort vertoning kan die Proteas daarvan vergeet om die Kampioenetoernooi te wen.

Om die volledige telkaart te kry, klik op die volgende skakel:  http://www.espncricinfo.com/england-v-south-africa-2017/engine/match/1031427.html

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Nas ·

Dink julle werklik dat Russell Domingo n flenter omgèe oor wat nou gaan gebeur? KSA het hom n streep getrek so hy kan nou maak en doen soos hy lus het. Hulle kon hom beloon het vir goeie werk.
Shame wonder nogal wa need Parnell kop toe gevat gaan word? Hy is goeie speler maar nou maak hulle van hom n professional waterboy.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.