Vroue-krieket: Proteas blom teen die Windies

Marizanne Kapp tydens ʼn vorige wedstryd tussen die Oval Invincibles en die Manchester Originals by The Oval in die suide van Londen (21 Julie 2021) (Foto: Ian Kington/AFP)

Daar is ʼn ou uitdrukking in sport dat jy beter raak namate jy meer speel.

In die geval van die Suid-Afrikaanse vroue-krieketspan is dit in die kol, want Dané van Niekerk-hulle het in die eerste twee eendagwedstryde in die reeks van vyf in die Wes-Indiese Eilande die tuisspan uit hul pad gevee.

In die eerste kragmeting in Antigua (die span is nou al byna ʼn maand lank op toer) het die Proteas met agt paaltjies gewen en in Vrydagaand se tweede wedstryd het Suid-Afrika nog beter gevaar deur met nege paaltjies te seëvier.

Die Windies kon net 120 in hul kolfbeurt bymekaar skraap met Marizanne Kapp (3/24), Ayabonga Khaka (2/13), Van Niekerk (2/14) en Suné Luus (2/27) wat verwoesting gesaai het.

Ironies genoeg het Shabnim Ismail, die wêreld se beste vroue-bouler, nie ʼn paaltjie ingeoes nie, maar het sy die tafel vir haar spanmaats gedek.

Die Proteas het 121/2 in slegs 25.4 boulbeurte gemoker met Laura Wolvaardt se 71* (84 balle, 8×4) wat die grondslag gelê het.

Dit onderstreep die ongelooflike diepte van die span, wat al hoe beter speel omdat al hoe meer spelers die afgelope jaar nou ook kanse in Australië en Engeland se kits- en blitsreekse kry om hul vaardighede nog verder te ontwikkel.

Plaas die oorwinning in perspektief.

Die Windies kon in twee tuis eendagwedstryde net 153 en 120 (273 lopies) aanteken en is albei kere uitgehaal.

Suid-Afrika het 273 van slegs 65.1 boulbeurte behaal en net drie paaltjies ingeboet.

Lizelle Lee spog met tellings van 91* en 18 vir ʼn gemiddeld van 109, terwyl Wolvaardt 36 en 71* aangeteken het vir ʼn gemiddeld van 107.

Die derde wedstryd in die reeks van vyf word Maandag weer in Coolidge, Antigua, beslis.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.