Vroue-krieket: Proteas se T20-span verloor met laaste bal teen Pakistan

Suné Luus in aksie vir die Proteas. Foto: Marco Longari/AFP.

Wanneer ʼn krieketspan se topspeler uittree, is dit in baie gevalle net ʼn tydelike terugslag wat nie te lank neem om van te herstel nie.

Maar wanneer ʼn span se beste aanvangsbouler, aanvangskolwer, oudkaptein en mees ervare speler binne die bestek van ʼn paar maande halt roep, gaan die bouproses veel langer neem.

Gelukkig het die Suid-Afrikaanse T20-vrouespan uithalerspelers soos die nuwe kaptein, Laura Wolvaardt, Tazmin Brits, Marizanne Kapp en Suné Luus om op terug te val, maar hul werklading sal baie goed bestuur moet word in die afwesigheid van Shabnim Ismail, Lizelle Lee, Dané van Niekerk en Mignon du Preez.

Suid-Afrika se Laura Wolvaardt (Foto: Sanka Vidanagama/AFP)

Die Proteas, wat in Februarie vanjaar op Nuweland in die eindstryd van die Wêreldbekertoernooi deur Australië geklop is, moet hul kaarte herskommel sonder ʼn rits van hul staatmakers.

Dit het soos ʼn seer oog uitgestaan toe die Proteas Vrydagaand in Karatsji in Pakistan die eerste T20-wedstryd van hul toer deur Pakistan met die laaste bal verloor het. Nadat Suid-Afrika 150/3 in 20 boulbeurte aangeteken het, was die tafel gedek vir ʼn oorwinning, veral nadat Brits (78) en Wolvaardt (44) die grondslag vir ʼn oorwinning met ʼn aanvangsvennootskap van 85 lopies gelê het.

Nadat Kapp (19) ’n verdere vennootskap van 58 lopies van net 37 aflewerings saam met Brits om die tweede paaltjie bygedra het, het die hoop nog verder opgevlam.

Dit was Brits se agtste vyftigtal wat sy van net 44 balle gemoker het. Haar volle beurt het 64 aflewerings geduur en sy het nege viere en een ses gemoker. Wolvaardt het 38 balle getrotseer en ses viere in haar beurt geslaan.

Maar die tuisspan se Bismah Maroof (37), Sidra Ameen (35) en Aliya Riaz (28) het die spannende wedstryd met die laaste bal beklink toe Pakistan by 151/5 uitgekom het.

Afgesien van Kapp (1/25) was Nonkululeko Mlaba (0/25), Ayabonga Khaka (0/27), Masabata Klaas (0/24), Nadine de Klerk (0/32) en Delmi Tucker (0/11) paaltjieloos.

Vier van die vyf Pakistanse kolwers is boonop uitgehardloop in die dolle jaagtog ná ’n oorwinning.

Die Proteas het geen blywende letsels opgedoen nie, maar daar is ʼn paar boul-leemtes in vreemde toestande op ʼn spieëlblink-blad oopgevlek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.