Vroue-krieket: Reën het laaste sê

Nadine de Klerk (Foto: Twitter/Krieket Suid-Afrika)

Een van enige krieketspeler se grootste frustrasies is wanneer dit reën. Jy berei jouself voor, jy stel jouself sielkundig in, jy speel jou kolfbeurt in jou gedagtes.

Maar Vrydagaand in Oos-Londen was dit nie vir die vrouespanne van Suid-Afrika en Nieu-Seeland beskore nie toe die eerste T20-wedstryd wat op Buffalopark gespeel moes word, afgelas is sonder dat ʼn bal afgestuur is.

Die eerste drie van die reeks van vyf T20-wedstryde is vir Oos-Londen beplan en hopelik sal die volgende kragmeting, wat Sondagmiddag op 14:00 moet begin, sonder enige reënonderbreking gespeel kan word.

Die reeks word aanstaande naweek met twee wedstryde in Benoni afgesluit.

Dit het Saterdagoggend steeds liggies in Oos-Londen gereën, maar volgens die weervoorspellers word die reën al hoe minder namate die naweek vorder.

Nieu-Seeland het die hef in die hand wat vorige T20-wedstryde betref, want die Kiwi’s het 10 van die vorige 13 kragmetings gewen.

Maar die Suid-Afrikaners het die afgelope jaar of wat met rasse skrede verbeter namate die spel meer professioneel geraak het.

Die Proteas het juis in Februarie in die Paarl ʼn oorwinning van 65 lopies oor Nieu-Seeland in die T20-Wêreldbekertoernooi behaal.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.