Vroue-krieketspan wen reeks teen Windies

(Foto: @OfficialCSA/Twitter)

Suid-Afrika se vroue-krieketspan het gewys daar moet met hulle rekening gehou word by volgende maand se Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland.

Suné Luus se span het die eendagreeks teen die Wes-Indiese Eilande 2-1 beklink op die Wanderers in Johannesburg.

Die besoekers het die loot gewen in vandag se beslissende wedstryd. Hulle het goed begin, maar die Suid-Afrikaanse boulers het toe na ʼn hoër rat oorgeskakel.

Die Windies was 107/3 in die 28ste boulbeurt, maar almal was terug in die pawiljoen vir net 174 lopies met nog vier balle oor. Kycia Knight het 48 lopies aangeteken en aanvangskolwer Deandra Dottin 36 lopies.

Vir die tuisspan het Shabnim Ismail uitgeblink met boulsyfers van 4/44 in haar toegelate tien boulbeurte. Ayabonga Khaka spog met 2/25 van haar tien boulbeurte en Chloe Tryon met 2/12 van ses boulbeurte af.

Suid-Afrika se kolwers het ook stewig begin. Laura Wolvaardt en Tazmin Brits het 38 lopies aangeteken voordat Wolvaardt vir 23 lopies uitgevang is. Nadat Brits uit is vir 20 lopies, het Andrie Steyn (52) en Luus (47) die wa deur die drif getrek met ʼn vennootskap van 88 lopies.

Tryon het ʼn vinnige 20 lopies van 17 balle af aangeteken om ʼn oorwinning met 6 paaltjies in die 40ste beurt te verseker.

Die Suid-Afrikaners se eerste wedstryd by die Wêreldbeker is op 5 Maart teen Bangladesj in Dunedin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.

1 Kommentaar

jongste oudste gewildste
Kobus

Wel gedaan! Sterkte by die Wêreldbeker. Ons hou duim vas!