Vrouekrieket: Proteas kan in Nieu-Seeland blom

Suid-Afrika se vrouekrieketspan het ʼn hegte spangees en ʼn puik afrigtingspan. (Foto: Krieket Suid-Afrika)

Dit sal ʼn groot jammerte wees as Sondag se laaste wedstryd op die Wanderers in die eendagreeks tussen die vrouekrieketspanne van Suid-Afrika en die Wes-Indiese Eilande weens die reënweer en moontlike nat buiteveld nie kan plaasvind nie.

Die reeks is op 1-1 op ʼn mespunt gebalanseer, hoewel die Proteas algaande beheer begin neem het.

Nadat die Windies in die eerste wedstryd in die reeks van vier op pad na ʼn sege was toe dit begin reën het, is die tweede kragmeting met ʼn superboulbeurt beslis toe albei spanne met 160 lopies geëindig het, maar die Windies die warrelwindbeurt gewen het.

In Donderdag se derde wedstryd het die Proteas een van hul mees gebalanseerde en afgeronde vertonings met die bal en kolf gelewer en die Windies teen die planke gehad. Die Proteas het 299/8 aangeteken en die Windies tot net 203 lopies beperk.

Die reeks is die laaste stukkie van die legkaart voordat albei spanne binnekort na Nieu-Seeland reis vir die Wêreldbekertoernooi.

Hou die Proteas maar dop, want die meesterpatroon vir sukses het reeds in 2017 gestalte gekry.

Die span het ook in 2020 deur Nieu-Seeland getoer en die eendagreeks met 3-0 gewen. Hulle het ʼn hegte spangees en ʼn puik afrigtingspan met die veldwerkafrigter Kruger van Wyk, wat jare lank in Nieu-Seeland gebly en gespeel het – ʼn groot troefkaart met sy kennis van Nieu-Seelandse kolfblaaie en toestande.

Die Proteas sal, afgesien van die kaptein, Dane van Niekerk (enkeloperasie), ook op volle sterkte wees.

Aan ervaring is daar beslis nie ʼn gebrek nie, met Mignon du Preez, Marizanne Kapp en Trisha Chetty wat almal al meer as 100 eendagwedstryde gespeel het.

Voeg daarby die flambojante Lizelle Lee (93) en die instaankaptein, Sune Luus (91), wat volgende in die ry staan, met Laura Wolvaardt en Ayabonga Khaka wat albei in meer as 50 wedstryde gespeel het.

Die Suid-Afrikaners is saam met Indië, Australië en Nieu-Seeland die groot gunstelinge. Die Proteas is tweede op die jongste eendagranglys, ʼn kortkop agter Australië.

Sedert die vorige Wêreldbekertoernooi in 2017, toe die Proteas die halfeindronde gehaal het, het hulle in 42 eendagwedstryde gespeel, waarvan hulle 27 gewen en net tien verloor het.

* Suid-Afrika se eerste kragmeting in Nieu-Seeland is op 4 Maart teen Bangladesj in Dunedin, gevolg deur wedstryde teen Pakistan, Engeland, Nieu-Seeland, Australië en die Windies met die laaste groepwedstryd op 27 Maart in Christchurch teen Indië.

Die topvier spanne dring dan deur tot die halfeindronde.

* Suid-Afrika se groep vir die Wêreldbekertoernooi: Suné Luus (kaptein), Chloé Tryon (onderkaptein), Ayabonga Khaka, Lara Goodall, Laura Wolvaardt, Lizelle Lee, Marizanne Kapp, Masabata Klaas, Mignon du Preez, Nonkululeko Mlaba, Shabnim Ismail, Sinalo Jafta, Tazmin Brits, Trisha Chetty en Tumi Sekhukhune.

Reisende reserwes: Anneke Bosch, Nadine de Klerk en Raisibe Ntozakhe.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.