Vrouekrieket: Proteas skitter teen Kiwi’s

Masabata Klaas (Foto: Proteas Women/X)

Suid-Afrika se vrouekrieketspan het Sondag in Benoni een van die merkwaardigste terugvegpogings in T20-krieket gelewer toe die Proteas die vyfde T20-wedstryd op Willowmoorepark op dramatiese wyse met 11 lopies gewen het.

Die Proteas het 155/5 in hul 20 boulbeurte aangeteken en Nieu-Seeland tot 144/8 beperk.

Die reeks het daarmee met 1-1 gelykop geëindig.

Die Kiwi’s, wat Saterdag se vierde wedstryd op Willowmoorepark met agt paaltjies gewen het, was op koers na ʼn maklike oorwinning op 117/1 ná 15.4 boulbeurte met Amelia Kerr en Suzie Bates voor die paaltjies. Hulle het net 38 lopies vir ʼn oorwinning gekort, maar toe verloor hulle heeltemal kop nadat Bates met die volgende bal uit is.

ʼn Dramatiese kolfineenstorting, waar sewe paaltjies vir net 27 lopies gespat het, het aan die Proteas die oorwinning besorg.

Die helde was Nadine de Klerk (3/24), Masabata Klaas (3/26) en Ayabonga Khaka (1/23) wat met ʼn rits streepballe die Kiwi’s gekelder het.

Kerr met 61 lopies (46 balle, 9×4) en die ervare Bates met 45 (42 balle, 5×4) het met ʼn vennootskap van 97 lopies om die tweede paaltjie die Kiwi’s op die wenpad geplaas, maar toe plof die span in.

Nietemin is Bates nou die kolwer (4 021) met die meeste lopies (mans en vroue) in T20-krieket.

Dis ʼn briljante prestasie, want sy is voor Virat Kohli van Indië (4 008 lopies) en ander kolfsterre soos Rohit Sharma, Martin Guptill en Babar Azam.

In die Proteas se kolfbeurt van 155/5 in 20 boulbeurte het Tazmin Brits met 45 (38 balle, 5×4, 1×6) en Laura Wolfaardt (24) die grondslag met ʼn aanvangsvennootskap van 36 lopies in 5 boulbeurte gelê.

Sune Luus met 36 (23 balle, 5×4) en Anneke Bosch (28) het hierop voortgebou.

Molly Penfold (2/26) en Leah Tahuhu (2/20) het die skroewe vir die Kiwi’s aangedraai.

 

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Casper ·

Ag asseblief,vergelyk die Kiwi’s se agt paaltjie oorwinning met die Proteas se 11 lopie oirwinning.Dit kan nie eers vergelyk word nie.Die Kiwi’s is ‘n trotse sport nasie en nie soos sommige van ons wat speel omdat ons gekies moet word nie.Die Kiwi’s word op meriete gekies.

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.