Vurige Duanne terug in Proteagroep

Duanne Olivier lewer die een skitterprestasie na die ander vir die Lions. Foto: Twitter.

Watwou!

Duanne Olivier is deur die Proteakeurders vir die komende toetsreeks teen Indië nadergetrek. Die 29-jarige snelbouler het laas in 2019 ’n wedstryd vir Suid-Afrika gespeel voordat hy ’n Kolpak-kontrak met Yorkshire onderteken het.

Maar hy is weer terug in Suid-Afrika en is tans die voorste bouler in die plaaslike meerdaagse reeks.

In vier wedstryde vir die Lions het hy reeds 28 paaltjies teen ’n gemiddeld van 11,14 laat spat, terwyl hy met ’n beste boulontleding van 5/53 spog.

’n Snelboulaanval van Anrich Nortjé, Kagiso Rabada en Olivier kan vir die Indiese kolwers hoofbrekens op die Suid-Afrikaanse baanblaaie gee.

Dan is die opwindende Marco Jansen en Glenton Stuurman ook deel van die groep van 21 spelers. Al twee spelers het met goeie vertonings teen Indië A vorendag gekom.

Jansen se veelsydigheid het die aandag getrek, terwyl Stuurman tans die tweede meeste paaltjies in die nie-amptelike toetsreeks geneem het.

Volgens die Internasionale Krieketraad is die Proteas tans die sesde beste toetsspan ter wêreld, terwyl Indië (ná nog ’n reeksoorwinning op hul tuisveld) die septer in rooibalkrieket swaai.

Victor Mpitsang, keurderbaas, is egter vol vertroue dat die Suid-Afrikaners hul goed van hul taak sal kwyt.

“Ons sien uit na die terugkeer van Dean Elgar en sy spelers. Dit is nou al ’n hele paar maande sedert hulle die Wes-Indiese Eilande verrinneweer het en ons het vertroue in die span wat gekies is,” het Mpitsang gesê.

Proteasgroep: Dean Elgar (kaptein), Temba Bavuma (onderkaptein), Quinton de Kock, Kagiso Rabada, Sarel Erwee, Beuran Hendricks, George Linde, Keshav Maharaj, Lungi Ngidi, Aiden Markram, Wiaan Mulder, Anrich Nortjé, Keegan Petersen, Rassie van der Dussen, Kyle Verreynne, Marco Jansen, Glenton Stuurman, Prenelan Subrayen, Sisanda Magala, Ruan Rickelton en Duanne Olivier.

Bepalings:

26 tot 30 Desember 2021: Eerste toets op SuperSportpark

3 tot 7 Januarie 2022: Tweede toets op die Wanderers

11 tot 15 Januarie 2022: Derde toets op Nuweland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Willi ·

Dankie tog, gelukkig hoef ek nie die BLM gemors te kyk nie en vermy ek dit soos die pes.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.