Vuur en vlam: Rabada en Nortjé

Anrich Nortjé en Kagiso Rabada het gister die Bangladesj-kolwers laat bontstaan. Foto: Indranil Mukherjee/AFP.

Kagiso Rabada en Anrich Nortjé het gister ses Bangladesj-kolwers terug na die kleedkamers gestuur, terwyl hulle gesamentlik slegs 28 lopies afgestaan het.

Rabada het verwoesting met sy openingsalvo gesaai, terwyl Nortjé later binne ’n japtrap met die stertkantkolwers klaargespeel het.

Vergeet van vinkel en koljander; gister was hulle eerder vuur en vlam.

Die Protea-draaiers het in die afgelope paar T20-wedstryde (reekse ingesluit) die septer geswaai en dit was lekker om te sien dat die snelboulers ook weer hul stempel afdruk.

Voeg daarby Dwaine Pretorius se nuutgevonde vermoë om paaltjies aan die einde van ’n kolfbeurt te neem en jy sit met ’n boulaanval wat ongetwyfeld wedstryde vir hul span kan wen.

Anrich Nortjé. Foto: Ishara S. Kodikara.

Nortjé is tans die Proteas se voorste bouler by die Wêreldbeker-toernooi. Hy het in sy vier wedstryde reeds agt paaltjies teen ’n gemiddeld van 8,75 geneem, terwyl hy minder as vyf lopies per boulbeurt afstaan.

Selfs op die stadige kolfblad van Sharjah het hy die Sri Lanka-kolwers laat bontstaan om met ’n boulontleding van 2/27 te spog.

Soos daar tereg gesê word – daar is geen plaasvervanger vir spoed nie.

Daarteenoor het Rabada ’n stillerige toernooi gehad, maar hy het gister met ’n herlewingspoging vorendag gekom waarop enigiemand sou trots wees.

Hy het met sy vaart beïndruk – die spoednaald was gereeld in die rooi gedruk – terwyl hy ook die bal lekker geswaai het wanneer hy dit voller geplant het.

Kagiso Rabada. Foto: Indranil Mukherjee/AFP.

Nortjé en Rabada behoort teen die tyd mekaar baie goed te ken; hulle vorm immers ook ’n gedugte boulkombinasie vir die Delhi Capitals in die Indiese Premierliga en hulle is beslis een van die redes vir die span se sukses.

“Anrich boul al geruime tyd baie goed en ek is trots op hom; dit is wonderlik om saam met hom te boul,” het Rabada gesê nadat hy gister sy speler-van-die-wedstryd-toekenning ontvang het.

Die Proteas speel Saterdag in hul laaste Super 12-wedstryd teen ’n baie sterk Engeland-span. En dalk, net dalk, beskik hulle oor die beste boulaanval om die Engelse kolwers in toom te hou.

Protea-boulers se vertoning by die T20-Wêreldbeker:

  • Anrich Nortjé: Agt paaltjies teen ’n gemiddeld van 8,75. Hy staan 4,56 lopies per boulbeurt af.
  • Dwaine Pretorius: Sewe paaltjies teen ’n gemiddeld van 10,14. Hy staan 6,08 lopies per boulbeurt af.
  • Tabraiz Shamsi: Ses paaltjies teen ’n gemiddeld van 16,16. Hy staan 6,46 lopies per boulbeurt af.
  • Kagiso Rabada: Vyf paaltjies teen ’n gemiddeld van 21,40. Hy staan 7,13 lopies per boulbeurt af.
  • Keshav Maharaj: Vier paaltjies teen ’n gemiddeld van 34.66. Hy staan 6,50 lopies per boulbeurt af.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Anoniem ·

Die verloor teen Australië tel teen hulle, asook hulle netto lopie tempo. Om deur te dring na die halfeindtryd, moet hulle Engeland wen en boonop hoop dat Australië een van hulle volgende 2 wedstryde teen Bangladesh of Wes-Indië verloor.

piet ·

Australie sal hul lopietempo drasties moet verhoog want ons is ver voor hulle in die opsig. Hulle het baie sleg teen Engeland verloor.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.