‘Waar was Aussies se aggressie?’

Ravichandaran Ashwin het die Aussie-boulers in die vorige toets op Sydney ook hoofbrekens gegee. Foto: Twitter.

Indië se stertkantkolwers het 150 lopies tot hul eerstebeurttelling van die laaste toets teen Australië op die Gabba bygedra.

Die besoekers was in die moeilikheid met hul telling op 186/6 – steeds 183 lopies weg van die Aussies se goeie telling van 369. Maar Washington Sundar (62) en Shardul Thakur (67) het met ’n uitstekende vennootskap van 123 die Indiërs se kastaiings uit die vuur gekrap.

Indië is uiteindelik vir 336 lopies uitgehaal en die beslissende toets is nog ver van klaar.

Nodeloos om te sê was die Aussie-boulaanval met tye sonder enige byt en Ricky Ponting het hul taktiek bevraagteken – klipharde toetskrieket is immers nie normaalweg deel van ’n Mej. Heelal se “wêreldvrede”-antwoord nie.

“Die wyse waarop Australië geboul het, was teleurstellend. Hulle was nie aggressief genoeg nie en het hopeloos te min kort aflewerings geboul,” het Ponting gesê.

 

Ricky Ponting. Foto: Twitter.

Die klipharde kolwer was aan die stuur van sake in die dae toe Australië met vuurvreter-snelboulers soos Brett Lee, Shaun Tait en Jason Gillespie gespog het.

“Vandag het die boulers dinge hopeloos te maklik vir die Indiese kolwers gemaak. ’n Mens het gedink hulle sou die Indiërs met vaart en aggressie laat bontstaan, maar hulle het ’n bietjie gesukkel.”

Die Gabba se kolfblad was stadiger as normaalweg; tog spog Josh Hazlewood steeds met ’n boulontleding van 5/57.

“Hulle is ongetwyfeld moeg, maar dit is waaroor toetskrieket gaan. Selfs wanneer jy moeg is, moet jy steeds elke geleentheid met albei hande aangryp.”

  • Meeste lopies in die reeks:
  1. Marnus Labuschagne, 401 lopies teen ’n gemiddeld van 57,28
  2. Steve Smith, 258 lopies teen ’n gemiddeld van 43,00
  3. Ajinkiya Rahane, 244 lopies teen ’n gemiddeld van 40,66
  4. Cheteshwar Pujara, 215 lopies teen ’n gemiddeld van 30,71
  5. Cameron Green, 199 lopies teen ’n gemiddeld van 33,16
  • Meeste paaltjies in die reeks:
  1. Pat Cummins, 17 paaltjies teen ’n gemiddeld van 21,52
  2. Josh Hazlewood, 16 paaltjies teen ’n gemiddeld van 15,93
  3. Ravichandaran Ashwin, 12 paaltjies teen ’n gemiddeld van 28,83
  4. Jasprit Bumrah, 11 paaltjies teen ’n gemiddeld van 29,36
  5. Mitchell Starc, 11 paaltjies teen ’n gemiddeld van 33,60

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.