‘Waarskynlik swakste SA toetsspan ooit’

Kevin Pietersen in gesprek met Mat Prior – nóg ’n Engelse speler wat in Suid-Afrika gebore is. Foto: Twitter.

Kevin Pietersen was ’n draaibalbouler in KwaZulu-Natal voordat hy in ’n briljante internasionale kolwer in Engeland ontpop het wat enige boulaanval aan flarde kon slaan.

Hoewel hy in sommige kringe as Engeland se beste kolwer nóg bestempel word, is hy steeds besorgd oor die welstand van krieket in sy geboorteland.

Hy het vroeër – selfs vóór hul amptelike aanstellings – getwiet dat Graeme Smith, Jacques Kallis en Mark Boucher die regte persone is om Suid-Afrikaanse krieket reg te ruk. Maar hy voorspel egter steeds ’n opdraande pad vorentoe.

“Suid-Afrika het nou hul bestuur-kwessie uitgesorteer, maar ek is baie besorgd oor die gehalte en diepte van hul spelers,” het hy in ’n rubriek vir Betway Insider geskryf.

“Om eerlik te wees, dié is waarskynlik die swakste Suid-Afrikaanse toetsspan nóg. Ek is bekommerd oor die feit dat die verkeerde spelers gekies word, sowel as die hoeveelheid Suid-Afrikaners wat in Engeland met Kolpak-kontrakte speel.”

Duanne Olivier is een van die Kolpak-spelers in Engeland. Foto: Sporting News.

In een van sy ander twiets het hy Smith – KSA se direkteur van krieket – gevra om na die Kolpak-situasie te kyk.

“Die beste ooreenkoms wat Smith met die Engelse krieketbeheerliggaam kan sluit, is om Kolpak-spelers toe te laat om Suid-Afrika te verteenwoordig. Laat hulle toe om geld in Engeland te verdien, maar steeds toegewyd aan die Proteas te wees,” het hy op sosiale media geskryf.

Spelers soos Kyle Abbott, Simon Harmer, Duanne Olivier en Rilee Rossouw speel almal in Engeland.

“Om ’n swak Suid-Afrikaanse krieketspan te sien, is dieselfde as om ’n swak Wes-Indiese krieketspan te sien. Wêreldkrieket ly daaronder.”

  • Die Proteas het die afgelope toetsreeks teen die Engelse met 3-1 verloor. Hul derde agtereenvolgende reeksnederlaag.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae