Wagner, Labuschagne maak ranglysspronge

Marnus Labuschagne is ook ’n goeie draaibalbouler. Foto: Twitter.

Hy was dalk maar net 10 jaar oud toe hy saam met sy ouers na Australië geëmigreer het, maar Marnus Labuschagne is tans saam met André Esterhuizen, Tyrone Green en Lehlohonolo Moses Maliehe een van Klerksdorp se bekendste name.

Die 25-jarige veelsydige speler het wêreldkrieket se eerste harsingskudding-plaasvervanger geword toe hy Steve Smith se skoene in die tweede toets in die Reeks om die As op Lord’s volgestaan het.

En sedertdien is “Mênus Lêebusjyn” een van die Aussies se voorste spelers.

In die afgelope toets teen Pakistan op die Gabba het hy nie net sy eerste toetshonderdtal vir sy aangenome land geslaan nie, maar ook sy hoogste eersterangse telling aangeteken.

Sy spogbeurt van 185 is die derde hoogste telling deur ’n Australiese nommerdriekolwer sedert Ricky Ponting sy uittrede aangekondig het.

In Labuschagne se laaste agt toetsbeurte het hy vyf keer meer as 50 lopies geslaan.

Justin Langer, Australië se afrigter, het die oud-Klerksdorper se lof besing.

Neil Wagner neem Stuart Broad se paaltjie. Foto: ANA.

“’n Legendariese speler soos Steve Waugh het vir my gesê dat Marnus die toekoms van Australiese krieket is. Hy is ongelooflik honger vir sukses en is glad nie bang om hard daarvoor te werk nie,” het Langer gesê.

Sy goeie beurte beteken dat hy nou die 21ste beste kolwer op die wêreldtoetsranglys is.

  • Nóg ’n Suid-Afrikaner, die Kiwi Neil Wagner, is tans die derde beste bouler in toetskrieket ná sy goeie ontleding van 5/44 in die tweede beurt van die eerste toets teen Engeland.

Wagner het sy skoolloopbaan by Affies in Pretoria voltooi en hy het sy toetsbuiging vir Nieu-Seeland in 2012 gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.