Wagner, Watling en Conway jag toetsglorie

Neil Wagner en Devon Conway vier ’n paaltjie. Foto: David Rowland/AFP.

Op dieselfde dag wanneer die Proteas sal poog om hul eerste oorsese reeksoorwinning in ’n lang ruk te smaak, sal ’n paar Suid-Afrikaans gebore spelers hul stempel op die eindstryd van die Wêreldtoetskrieket-kampioenskap wil afdruk.

Nieu-Seeland en Indië sal vanaf vandag sake in Southampton uitspook om as die beste toetskrieketspan ter wêreld aangewys te word.

Neil Wagner en BJ Watling is al vir ’n geruime tyd deel van die Nieu-Seelandse opset, terwyl Devon Conway krieket eenvoudig laat lyk sedert hy sy internasionale buiging vir die Swartpette gemaak het.

Die 35-jarige Wagner is tans een van die voorste snelboulers in wêreldkrieket en hy beskik oor die ongekende vermoë om kolwers met kort aflewerings te peper.

Ja, anders as vantevore sukkel die Indiërs nie meer om vinnige aflewerings te trotseer nie, maar soos wat Australië se Matthew Wade jou sal vertel: Niemand kan opslagballe soos Neil Wagner boul nie.

Dan sal die wedstryd ekstra spesiaal vir Watling wees.

Dit sal die paaltjiewagter, wat in Durban gebore is, se laaste internasionale wedstryd wees en hy kan terugkyk op ’n goeie toetsloopbaan.

In 74 toetse vir die Kiwi’s het hy 3 789 lopies teen ’n gemiddeld van 37,89 geslaan. As paaltjiewagter het hy ook van 270 kolwers ontslae geraak.

“Om van ’n openingskolwer na die doeltreffendste paaltjiewagter in die geskiedenis van Nieu-Seelandse krieket oor te skakel sit nie in enigiemand se broek nie. Dit is ’n ongelooflike prestasie,” het Kane Williamson (kaptein) gesê.

Op sy beurt het Conway net ’n paar weke gelede 200 lopies in sy toetsbuiging teen Engeland op Lord’s geslaan en dit kort daarna met ’n beurt van 80 opgevolg.

Indien die weer saamspeel, sal die aksie vandag om 11:30 begin en dit sal regstreeks op SuperSport uitgesaai word.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.