Wanderers: die stryd gaan voort!

Die derde kriekettoets tussen die Proteas en Indië, wat in die weegskaal was nadat die Wandererskolfblad Vrydag ʼn hele paar keer die bal gevaarlik van ʼn goeie lengte laat spring het, gaan voort.

Hierdie besluit Vrydagaand van die wedstrydskeidsregter, Andy Pycroft, sal waarskynlik deur die meerderheid ware krieketliefhebbers en -kenners verwelkom word.

Is dit die lekkerbekkigheid van die eendaagse en veral die sinnelose vermaak van die T20’s wat die mense so langtand vir vasbytkrieket maak? Kolfblaaie word sedert die jare toet deur die tuisspan voorberei om hulle sterkpunte te pas.

ʼn Relatiewe onlangse voorbeeld was in 1996, net 22 jaar gelede, toe Suid-Afrika vir Indië in Durban vir 96 en 100 lopies in hulle twee beurte uitgehaal het. Dit was die Wit Blits Alan Donald en Shaun Pollock wat op Kingsmead se tipiese Groen Mamba verwoesting gesaai het. Die Proteas kon toe self net 235 en 259 bymekaar skraap.

Net Rahul Dravid van die Indiese kolwers kon in  die tweede beurt met 27nun die 20-lopie-kerf verbysteek. Daar was in die twee kolfbeurte van die besoekers darem ook vier spelers wat in die eerste beurt dubbelsyfers behaal het.

En wat van Australië  wat in 2011 op Nuweland net 96 teen die Proteas kon aanteken nadat hulle in  ʼn stadium op 21/9 gestaan het?

Of Suid-Afrika wat op kolfblaaie wat aan stofpaaie van die Dakartydren herinner moes skrop teen die draaiers van Indië en in 2015 in Nagpur net 79 en 185 kon aanteken? Indië is vir 215 en 173 uitgehaal.

Op dieselfde toer is Suid-Afrika is vir 184 en 109 in Mohali uitgeknikker. Indië se tellings was self net ʼn beskeie 201 en 200.

Voorbereide kolfblaaie kan natuurlik ook boemerang. Suid-Afrika het ook in 2006 op die einste Wanderers net 85 lopies in 25.1 boulbeurte bymekaargeskraap. In 2016 kon die Proteas ook net 83 in die tweede beurt op die Wanderers teen Engeland aanteken, en in 2013 is Nieu-Seeland op Nuweland vir net 45 uitgehaal

♦  Die skeidsregters het Vrydagagmiddag met 19 minute se speeltyd oor besluit dit is te gevaarlik om voort te gaan toe Dean Elgar die vierde keer raakgeboul is. Suid-Afrika het toe in sy tweede beurt op 17/1 gewankel met die wenteiken van 241 lopies nog baie ver weg – dít nadat Indië se kolwers ook heelwat lyfstraf moes verduur teen boulwerk wat die balle met behulp van die krake op die kolfblad sterk laat klim het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.