Warne: Die gewone ou wat buitengewone dinge kon doen

Shane Warne is een van die beste krieketspelers ooit. Foto: David Hancock/AFP.

Die wêreld het kleurvolle karakters nodig en wat krieket betref was niemand meer kleurvol as Shane Keith Warne nie.

Die Australiese legende was vermaak op sy beste: Hy het gesorg dat kroeë leegloop wanneer Allan Border, Mark Taylor of Ricky Ponting die bal in sy rigting gegooi het, hy kon kolwers sommer met sy eerste aflewering mesmeraais, terwyl sy persoonlike lewe met dié van ’n rockster vergelyk kon word.

Soos wat Kerry O’Keeffe (oudkrieketspeler en huidige Fox Sports-kommentator) een keer gesê het – Warne se verhouding met die Britse aktrise Elizabeth Hurley het hom net meer aansien in Australië gegee!

Maar as ’n krieketspeler was die legendariese bybreekbouler ’n frats.

Sy aanloop – hoewel vanaf net ’n paar tree – was net so intimiderend soos dié van Shoaib Akhtar of Brett Lee, terwyl sy sterk vingers en gewrig vir ongekende draai gesorg het.

Voeg daarby die sielkundige houvas wat hy op kolwers gehad het saam met sy intelligensie; en ’n mens kan verstaan waarom hy 708 toetspaaltjies geneem het en deur die gesaghebbende Wisden-krieketpublikasie as een van die spelers van die eeu aangewys is.

“Frats” is dalk nie die regte woord nie – “meester” is ’n veel beter beskrywing.

Die nuus van sy dood is met skok en hartseer deur die krieketwêreld begroet; Warne was immers die superheld van die sport.

Hy was egter ’n superheld met die leefstyl van ’n gewilde en geliefde rockster; iemand soos Ian Healy het byvoorbeeld in die media gesê dat Warne se ontydige afsterwe dalk nie só onverwags is nie.

Tog word sy nalatenskap behoorlik gevier.

Shane Warne. Foto: Twitter.

Die ikoniese Melbourne Cricket Ground se Great Southern-pawiljoen word binnekort die S.K. Warne-pawiljoen, terwyl Scott Morrison (Australië se eerste minister) aangedui het dat Warne se staatsbegrafnis deur die regering, Krieket Australië en die draaibalbouler se familie gereël sal word.

“Daar was niemand soos Shane nie. Hy het op sy eie unieke manier geleef. Sy lewe is gekenmerk deur groot prestasies, maar daar was ook teleurstelling en spyt. Tog was daar altyd ’n glimlag op sy gesig; hy was iemand wat voluit gelewe het,” het Morrison gesê.

Volgens Allan Border, Warne se kaptein toe hy sy toetsbuiging in die vroeë 1990’s vir Australië gemaak het, het gesê dat die bybreekbouler op dieselfde vlak as sir Donald Bradman is – die wêreldbekende kolwer wat sy internasionale loopbaan met ’n gemiddeld van 99,94 afgesluit het.

“Wanneer Bradman in die span was, het Australië krieketwedstryde gewen. Dieselfde geld vir Warne,” het Border gesê.

Selfs wanneer Australië gesukkel het, kon ’n kaptein of afrigter altyd op die sterdraaier reken om die span aan te vuur.

In die 2005-Reeks om die As het Engeland weliswaar met die louere weggestap, maar Warne het steeds 40 paaltjies teen ’n spoggemiddeld van 19,92 geneem.

“As dit nie vir sy heldedade was nie, sou ons daardie reeks waarskynlik met 4 – 1 gewen het,” het Michael Vaughan (voormalige Engeland-kaptein) vir The Telegraph geskryf.

“Almal wou saam met Shane gesien word, maar hy was eintlik net ’n gewone ou wat buitengewone dinge kon doen. Hy het ’n ongelooflike lewe gelei.”

Shane Warne was krieket en krieket was Shane Warne. ’n Mens was bevoorreg om hom in aksie te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.