Volgens oorlewering het Engeland se toporde-kolwers in die 1990’s en vroeë 2000’s gesukkel om te slaap: Hulle was bang hulle kry nagmerries van Shane Warne se boulwerk.
En ’n mens kan verstaan waarom.
Want in 36 toetse het die legendariese bybreek-bouler 195 paaltjies teen ’n gemiddeld van 23,26 teen die Bleekbene laat spat. Voeg daarby die sogenaamde “Aflewering van die Eeu” waarmee hy vir Mike Gatting in 1993 om sy bene skoongeboul het en Warne het ’n sielkundige houvas op die Engelse gehad wat vir niks skrik nie.
Die vurige Australiër het egter in ’n onlangse onderhoud gesê dat hy daarvan sal hou om Engeland se volgende afrigter te word; ’n stelling wat die Engelse aan hul tee laat stik en die Aussies na nóg ’n bier laat gryp.
“Ek sou daarvan hou om Engeland se afrigter te wees. Trouens, ek glo dat ek my goed van my taak sal kwyt, daar is baie talent om mee te werk,” het Warne aan Sky Sports gesê.
Engeland het die pasvoltooide Reeks om die As met 4-0 verloor en hulle het terstond vir Chris Silverwood (hoofafrigter) die trekpas gegee.
“Chris het die span met empatie en veerkragtigheid gelei en daarvoor verdien hy ons dank en waardering,” het Tom Harrison, uitvoerende hoof van die Engelse krieketraad, destyds gesê.
Dit is egter duidelik dat die Engelse ’n afrigter soek wat wedstryde wen; nie een wat noodwendig die spelers se hande vashou nie.
En daar is min in die krieketwêreld wat meer as Warne van wen hou.
Boonop het die 52-jarige speel- en afrigterservaring in Engeland. Hy het ’n hele paar seisoene vir Hampshire (saam met Kevin Pietersen) gespeel, terwyl hy ook die afrigter van die London Spirit in die Hundred-reeks is.
Volgens Warne moet Engeland weer begin om die basiese dinge op die veld reg te doen: Foutballe, swak veldwerk en doellose kolfwerk het hulle in die As-reeks gekelder.
“Daar is so baie goeie spelers in Engeland en hulle het ongelooflike diepte, maar hulle presteer nie na wense nie. ’n Span kan dit nie bekostig om so baie foutballe af te stuur en vangkanse te berou nie.”
Briljante spelers is nie noodwendig goeie afrigters nie, maar dalk is iemand soos Warne net wat Engeland tans benodig.
GOAT! Niks funny nie, net n run up en pure talent. What a player!