Wat ’n verlepte vertoning in Christchurch

Dean Elgar kon in sy twee beurte net een lopie aanteken. Foto: Marty Melville/AFP.

As jy ’n Protea-ondersteuner is, trek maar solank die boegoebrandewyn (of iets baie sterker) nader; die Suid-Afrikaners is besig om slég teen Nieu-Seeland te verloor.

Ná gister se treurmare – waar die span vir ’n skamele 95 lopies uitgeboender is – het ’n mens gedink dat dit sekerlik nie slegter met Dean Elgar en Kie in Christchurch sou kon gaan nie.

Ons almal was verkeerd.

Want ná die tweede dag se spel is die Proteas nie net met hul rûe teen die muur nie, hulle strompel sonder ’n kompas op moedverloor se vlakte rond.

Die Nieu-Seelanders het 482 lopies in hul eerste beurt opgestapel om ’n reusevoorsprong van 387 lopies te geniet.

Henry Nicholls – die man wat gister ook ’n tweede kans danksy die Suid-Afrikaners se swak veldwerk gekry het – het 105 lopies van 163 aflewerings gemoker.

Voeg daarby Tom Blundell (96) en Colin de Grandhomme (45) se beurte en die tuisspan se kolwers het die pap lekker dik aangemaak.

Maar die grootste frustrasie vir die Proteas was ongetwyfeld Neil Wagner en Matt Henry – twee stertkantkolwers – se warrelwindbeurte.

Eers het die Suid-Afrikaans gebore Wagner nege grenshoue in sy rol as naguiltjie geslaan, waarna Henry (wat op no. 11 uitgestap het) 58 onoorwonne lopies aangeteken het.

Die Nieu-Seelanders het teen meer as vier lopies per boulbeurt gekolf en die Protea-boulaanval het net so onbeholpe soos die kolwers begin lyk.

Tog is die kolwers professionele kleitrappers in hierdie toets en teen uitskeityd het die Suid-Afrikaners op 34/3 gesteier – Sarel Erwee (0), Elgar (0) en Aiden Markram (2) is almal reeds terug in die kleedkamer.

Die Proteas benodig nog ’n verdere 353 lopies om net by die Kiwi’s se eerstebeurttelling uit te kom. Dalk is Nicholls se 105 ’n meer realistiese teiken vir die verlepte Proteas.

Ai tog.

  • Opsomming van telkaart:

Proteas 95/10 in 49,2 boulbeurte: Zubayr Hamza 25 en Matt Henry 7/23

Nieu-Seeland 482/10 in 117,5 boulbeurte: Henry Nicholls 105 en Duanne Olivier 3/100

Proteas 34/3 in 9 boulbeurte: Temba Bavuma 22* en Tim Southee 2/20

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Dewald ·

Daarsy manne, buig die knieg voor die wedstryd…. en gedurende die wedstryd ook. My tone krul sommer van lekker kry.

Ratel ·

Ja nee, SA krieket sal net nooit weer dieselfde wees nie. Die res van ons trotse sporte sal seker volg, dan kan al ons sport spanne saam met bafana bafana onder op die wenlys pronk.

casper ·

Ja hulle moet verder op die kniegies kruip en baaaie meer vuis wys vir BLM — Miskien sal dit dan beter gaan ne !!!

piet ·

Hier kruip ons weer uit die gate uit. Bekke was doodstil toe ons goedgedoen het. Ai tog, wat ‘n onpatriotiese spul skepsels. NZ vat ook die knie……

Frank ·

Ons het goed gedoen danksy EEN man, Peterson. Terug gaatjie toe met jou Piet!!

casper ·

Ons weet — Hulle is ten minste All Blacks lives matter ne !!

Corne123 ·

Dankie manne lekker khie buig.Julle is voorwaar n goeie spannetjie waarop ons kan trots wees lmga

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.