Weer kan vir Proteas die reeks verseker

Die derde en beslissende kriekettoets tussen die Proteas en  Nieu-Seeland begin Saterdagoggend om middernag op Seddonpark in Hamilton te midde van baie beserings en die voorspelde gure weer.

Die goeie nuus vir die Proteas op die vooraand van die derde kriekettoets teen die Kiwi’s is dat Quinton de Kock fiks verklaar is en gereed is om te speel. De Kock het ligamente in sy regtermiddelvinger beskadig maar met ekstra beskerming oor die vinger het hy sonder enige probleem deur die kolf- en veldwerkoefening gekom.

Die Kiwi’s moet egter die derde toets sonder drie van hulle topspelers aanpak. Die twee snelboulers, Trent Boult en Tim Southee, het nie betyds van hulle beserings herstel nie en Ross Taylor wat tydens die eerste toets beseer is,  kan ook nie Nieu-Seeland se kolforde versterk nie. Na die Kiwi’s se vernederende neerlaag binne net drie dae in die tweede toets, is daar sterk druk op die spelers en die keurders.

Die derde toets is beslissend. Die Nieu-Seelanders sal bittergraag die reeks met ʼn oorwinning gelyk wil maak terwyl die Proteas met nog ʼn oorwinning oor die Kiwi’s na die tweede plek op die IKR se toetsranglys opskuif.

Faf du Plessis beskou die wedstryd só belangrik dat hulle nie vir De Kock sou laat rus het tensy dit nie anders kon nie.

Hy sê dat dit vir hom en die span ʼn ongelooflike jaar was en dat een van hulle doelstellings was om aan die einde van die seisoen tweede op die toetsranglys te wees.

Twaalf maande gelede was die Proteas slegs sewende op daardie lys.  Du Plessis voel nog steeds dat die kolwers nog nie op alle silinders vuur nie en wil dit graag in die laaste wedstryd in Nieu-Seeland sien.

Die waarskynlikheid dat die weer die uitslag sal dikteer is baie groot. Daar word reënbuie vir al vyf dae voorspel, veral vir Sondag.

Met ʼn onbesliste uitslag sal die Proteas steeds die reeks 1 -0 wen.

Dit lyk of die Proteas se Stephen Cook sy plek ondanks vier mislukkings sal behou. Dit is ook onwaarskynlik dat die draaier Dane Piedt sal speel ondanks dat hy vir die toets van Suid-Afrika laat kom is.

Waarskynlike spanne –

Nieu-Seeland
1 Tom Latham, 2 Jeet Raval, 3 Kane Williamson (kapt), 4 Neil Broom, 5 Henry Nicholls, 6 BJ Watling, 7 James Neesham/Colin de Grandhomme/Scott Kuggeleijn, 8 Mitchell Santner, 9 Jeetan Patel, 10 Matt Henry 11 Neil Wagner

Suid-Afrika
1 Stephen Cook, 2 Dean Elgar, 3 Hashim Amla, 4 Faf du Plessis (kapt), 5 JP Duminy, 6 Temba Bavuma, 7 Quinton de Kock, 8 Vernon Philander, 9 Keshav Maharaj, 10 Morné Morkel, 11 Kagiso Rabada

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.