Wees dankbaar ons het vir Markram

Aiden Markram was een van die Proteas se beste spelers by die T20-Wêreldbeker. Foto: Aamir Qureshi/AFP.

Aiden Markram beskik ongetwyfeld oor emmersvol talent. Hy is sterk, vaardig op die voorvoet en behendig op die agtervoet, terwyl sy veldwerk ook nie te versmaai is nie.

Toe hy destyds sy toetsbuiging teen Bangladesj in Potchefstroom gemaak het, het hy met ’n stewige beurt van 97 beïndruk. In sy tweede toets het hy sy eerste internasionale honderdtal geslaan, terwyl hy ’n rukkie later ook Australië se boulers in Durban en Kaapstad getem het.

As die eerste Protea-kaptein (weliswaar as ’n o. 19-speler) om ’n Wêreldbeker-trofee omhoog te hou, het baie krieketliefhebbers groot dinge van die Pretorianer verwag;  dr. Ali Bacher het hom onder meer as ’n toekomstige toetskrieketkaptein uitgesonder.

Tog het dinge nie altyd seepglad vir die kolwer verloop nie.

Hy het later weg van die huis teen Sri Lanka gesukkel, terwyl dinge ook nie heeltemal volgens plan in 2019 teen Indië verloop het nie.

Markram was verder vir ’n geruime tyd langs die grenstou gewees omdat hy sy gewrig in die einste Indië-reeks gebreek het nadat hy in die Pune-toets vir sy tweede agtereenvolgende nulletjie (weliswaar verkeerdelik) uitgegee is.

Uit pure frustrasie het hy ’n harde voorwerp geslaan en ’n skandering het getoon dat hy ’n fraktuur in sy gewrig opgedoen het.

“Kan hy die druk van internasionale krieket hanteer?” was daar om braaivleisvure en in dagblaaie gevra.

Aiden Markram. (Foto: Themba Hadebe/AP)

Voeg daarby ’n witbalkrieketloopbaan wat nooit werklik vir die Proteas wou vlamvat nie – hy was onseker van sy plek in die span en waar hy sou kolf  – en die doemprofete het op die straathoeke begin saamgedrom.

Druk nou die versnelknoppie na November 2021 en die 27-jarige kolwer is ná ’n baie goeie T20-Wêreldbeker (waar hy sy lopies teen ’n gemiddeld van 54 en ’n treftempo van 145 geslaan het) die derde voorste kolwer op die internasionale T20-ranglys.

Hy het in die Proteas se laaste wedstryd ’n onoorwonne 52 van slegs 25 aflewerings gemoker, terwyl sy draaiboulwerk ook beteken dat hy die sewende plek op die veelsydige speler-ranglys beklee.

Voeg daarby ’n toetsloopbaan wat skielik weer momentum opbou danksy spogvertonings in Pakistan (agtereenvolgende beurte van 74, 87, 108 en 140) en jy sit met ’n speler wie se Gunn & Moore-kolf ongetwyfeld die praatwerk doen.

In 2019 was daar gewik en geweeg of hy dit verdien om deel van die Proteas se Wêreldbeker-planne in Engeland behoort te wees. Deesdae kan jy amper nie ’n Protea-elftal sonder Aiden Markram indink nie.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Frank ·

Iets baie interessant wat ek gister sien. Hierdie Engeland wat so mooi gespeel het…
Haal bietjie Buttler se telling uit en kyk waar eindig Engeland. Hy het die 2de hoogste gemiddelde kolftelling en dans dit Ali op 13 en Morgan op 31 eers!!!!!!!!!!!!!! Ons het Rassie op 6, Aiden op 8 en Miller op 15.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.