Wen is die wagwoord vir Proteas

David Miller en Temba Bavuma. Foto Indranil Mukherjee/AFP. INDRANIL MUKHERJEE / AFP)

Die Proteas sal môre vóór die aanvang van hul laaste Super 12-wedstryd teen Engeland presies weet wat van hulle verwag word om ’n moontlike plek in die halfeindstryd van die T20-Wêreldbeker te bespreek.

Australië het Groep 1 gister heeltemal deurmekaargekrap toe hulle Bangladesj met agt paaltjies geklop het. Van groter belang is dat hulle die wenlopies binne sewe boulbeurte geslaan het, wat beteken dat hul netto-lopietempo van -0,627 na 1,031 gespring het.

Volgens Adam Zampa, wat met sy boulontleding van 5/19 die Tiere se kolwers dronk gedraai het, het die Aussies vanuit die staanspoor besluit om so aggressief moontlik te kolf.

Aaron Finch het 40 van 20 aflewerings gemoker, terwyl Mitchell Marsh – wat tot Shane Warne se vreugde weer in die span was – teen ’n tempo van 320 lopies per 100 aflewerings gekolf het.

“Ons wou ongetwyfeld met aggressie gespeel het. As ’n mens kyk hoe dinge in ons groep staan, was dit baie belangrik om die wedstryd goed te wen,” het Zampa gesê.

Daarteenoor het dit die Proteas amper 14 boulbeurte geneem om met Bangladesj af te reken, terwyl hulle ook in hul vorige wedstryde nie juis baie haastig gekolf het nie.

In ’n perfekte Proteawêreld – as só iets nog deesdae bestaan – sal Australië môre teen die Wes-Indiese Eilande verloor, terwyl die Suid-Afrikaners met Engeland klaarspeel. Sodoende sal Temba Bavuma-hulle vir die halfeindstryd kwalifiseer.

As al twee spanne egter wen óf as al twee spanne verloor, sal die sakrekenaars nadergetrek moet word.

Volgens Cricinfo kan die Aussies selfs nog eerste in die groep eindig as hulle die Windies met 100 lopies klop en Engeland met meer as 43 lopies teen die Proteas verloor.

Dit behoort egter in die Proteas se guns te tel dat hul wedstryd in Sharjah beslis word. Dit is deesdae nie maklik om daar lopies aan te teken nie en as Anrich Nortjé, Tabraiz Shamsi of selfs Aiden Markram vinnig van Jos Buttler ontslae kan raak, is die moontlikheid groter dat die Suid-Afrikaners vir ’n opskudding kan sorg.

Kevin Pietersen het mos juis gesê dat die silwerware eintlik reeds in Engeland se vertoonkas staan.

Bepalings:

12:00 – Australië teen Windies

16:00 – Proteas teen Engeland

  • Foto: Verskaf.

    Luister ook gerus na Agterblad, ’n splinternuwe podsending op Maroela Media boaan die artikel.

Willem Rautenbach, Francois van Zyl, Alten du Plessis, Charl Eksteen en Hendré Cubitt is vyf sportliefhebbers wat mekaar as studente in Stellenbosch ontmoet het.

Hoewel hulle deesdae hulself op verskillende plekke in die land bevind, is hulle steeds gereed om oor elke drie, doel en grenshou te debatteer.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

10 Kommentare

Pieter ·

Dit raak nou regtig afgesaag. Hoe dikwels kniel jy vir jou werk?

Anoniem ·

Wen alleen teen Engeland is nie meer goed genoeg nie, hulle moet hoop Australië verloor hul laaste wedstryd en dan moet ons boonop ons lopie tempo verbeter. Die eerste verloor teen die Aussies en stadige lopie tempo was ons doodskoot. Ons het nie die kolwers wat ‘n teiken vinnig genoeg kan jaag nie.

Pieter ·

Daar gaan hier weer klippe gekou word as hulle wen. Lippe onder die klippe.

Willem ·

Moet ons nou nie teleurstel nie…choke asb julle kniebuigers…

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.