Wen is lekker; doen so voort

George Linde vier Mohammad Rizwan se paaltjie. Foto: Christiaan Kotze/AFP.

Die Proteas het gistermiddag op die Wanderers die bordjies verhang om Pakistan met ses paaltjies in die tweede wedstryd van die T20-reeks te klop.

Die besoekers het vroeër die eerste kragmeting met vier paaltjies gewen.

George Linde het gister sy waarde beklemtoon en hy is welverdiend as die speler van die wedstryd aangewys. Die draaier het met die eerste bal van die wedstryd van die gevaarlike Mohammad Rizwan ontslae geraak om uiteindelik met boulsyfers van 3/23 te spog.

Lizaad Williams (3/35) het ook gereeld paaltjies geneem, terwyl Sisanda Magala met ’n paar streepballe teen die einde van Pakistan se beurt vorendag gekom het om die besoekers tot 140/9 in hul toegelate 20 boulbeurte te beperk.

Janneman Malan (15) en Aiden Markram (54) het daarna soos twee wegholtreine weggetrek en hulle het binne ’n japtrap 44 lopies om die eerste paaltjie aangeteken.

Tog het Pakistan weer teruggeveg en met die Proteas se telling op 92/4 het vrese van nóg ’n kolfineenstorting weer by ondersteuners begin opvlam.

Maar Heinrich Klaasen (36) en Linde (20) se vennootskap van 49 om die vyfde paaltjie het egter die wa deur die drif getrek.

Ja, dit is lekker om te wen en die Proteas het inderdaad goed gewen; maar hulle het al vantevore met die louere in ’n kragmeting weggestap net om die volgende een te verloor en sodoende die reeks prys te gee.

Dit is tyd dat Mark Boucher se span die uitklophou in ’n T20-reeks plant. Hulle is weliswaar sonder Quinton de Kock en sy ander IPL-vriende, maar hulle is steeds goed genoeg om dit te doen.

Die kolflys lyk egter nog broos met Andile Phehlukwayo wat onder die eerste sewe kolwers is. Spelers soos Kyle Verreynne of Wiaan Mulder kan egter die wanbalans regstel.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.