Wêreldbeker vir vroue: Hoekom sukkel Lee en Du Preez?

Mignon du Preez (Januarie 2021) (Foto: Twitter)

Die Suid-Afrikaanse vroue-krieketspan het twee wense vir die oorblywende reeks wedstryde in vanjaar se Wêreldbekertoernooi wat in Nieu-Seeland beslis word.

Die Proteas hou duimvas dat Lizelle Lee en Mignon du Preez, twee van die span se mees ervare spelers, die grootste lopiemakers en bestendige kolwers, hul droogte aan lopies kan beëindig.

Die Proteas is naas Australië die toonaangewende span en saam met die Aussies die enigste twee onoorwonne spanne in vanjaar se toernooi. Albei was kort ná die halfpadmerk reeds verseker van ʼn plek in die halfeindronde.

Hulle pak mekaar Dinsdag om te bepaal watter span eerste of tweede sal eindig. As ʼn span bo eindig, speel hy teen die span wat vierde eindig; en die tweede span speel teen die derde beste span op die puntelys.

Suid-Afrika moet nog drie wedstryde speel: teen die Aussies dan nog teen die Wes-Indiese Eilande (Donderdag) en Indië (komende Sondag) om hul groepverpligtinge af te handel.

Tot dusver het Laura Wolvaardt asook die span se boulers en skitterende veelsydige vertonings deur Marizanne Kapp, die span deurgetrek.

Kapp en Ayabonga Khaka het met 10 paaltjies elk die meeste paaltjies tot dusver in die toernooi geneem. Voeg daarby Shabnim Ismail se sewe paaltjies en Masabata Klaas met vyf paaltjies en dis hoekom die Proteas reeds agt punte ná vier wedstryde het en op die hakke van Australië (10 punte ná vyf wedstryde) is.

Aan die kolfkant troon Wolvaardt (260 lopies teen ʼn gemiddeld van 65.00 lopies per beurt), kop en skouers uit. Sy het reeds drie 50-talle aangeteken en is die anker van die kolflys.

Die kaptein, Suné Luus is met 174 lopies ewe indrukwekkend (gemiddeld 43.5) en bestendig, gevolg deur Kapp (115 lopies) en Chloe Tryon (99 lopies).

Maar vergelyk dit met die vyf top-Aussies (Rachel Haynes (320 lopies), Meg Lanning (223), Alyssa Healy (190), Ellyse Perry (146) en Beth Mooney (138) en dis hoekom daar kommer is.

Lee (28 lopies teen 9.33 per beurt) en Du Preez (27 lopies teen 6.75) sukkel met hul kolfpeil.

Lee spog reeds met 96 eendagwedstryde en het 3 262 lopies teen ʼn gemiddeld van 37.5 aangeteken. Du Preez het reeds 150 eendagwedstryde vir die Proteas gespeel en 3 626 lopies teen ʼn gemiddeld van 32.37 per beurt aangeteken.

As hulle betyds hul peil herwin, is daar geen rede waarom die Proteas nie die Wêreldbeker kan wen nie.

Alle kolwers sukkel die een of ander tyd met hul peil. Dis baie keer ʼn geval van ʼn gebrek aan selfvertroue en ʼn bietjie geluk.

Maar gebeur dit nie, raak die kanse skraal dat die Proteas die Aussies sal kan uitstof.

Teen wie kan die Proteas in die halfeindronde speel?

Engeland het Sondag (4 punte) die agterdeur oopgehou om saam met Indië (4 punte) of die Windies (6 punte) deur te dring nadat hy Nieu-Seeland in Auckland met een paaltjie geklop het.

Tot dusver het nie een van dié spanne na vore getree as moontlike wenners nie en stuur dit op ʼn tweestryd tussen Australië en Suid-Afrika af … mits Lee en Du Preez die spinnerakke van middelmatigheid kan afskud.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.