Wie kan Dale Steyn se skoene volstaan?

Dale Steyn. Foto: GB Jordaan.

Dale Steyn het ondervinding van Engelse toestande, hy het die aura, die nodige spoed en hy kan die bal lekker swaai. Hy was dus ’n logiese keuse vir Suid-Afrika se Wêreldbekerspan.

Maar die 35-jarige snelbouler het wéér las van die skouerbesering wat hom lank op die krukkelys gehou het.

Die Phalaborwa Sneltrein – soos wat hy bekendstaan – het net twee wedstryde vir Virat Kohli se Royal Challengers Bangalore gespeel voordat sy skouerbesering ’n week of wat gelede weer opgevlam het.

Steyn het destyds sy skouer tydens ʼn wedstryd teen Australië beseer en was lank besig met rehabilitasiewerk. Hy het egter goed herstel en Shaun Pollock se SA rekord vir die meeste toetspaaltjies geklop, terwyl hy sterk in die Mzansi Superliga en daaropvolgende wedstryde vertoon het.

Hy is egter tans in ’n wedloop teen tyd gewikkel om gereed te wees vir die komende internasionale skouspel, en Suid-Afrika se keurderbaas, Linda Zondi, het aan die media gesê daar is ’n Plan B indien Steyn nie betyds sou herstel nie.

Maar wie sal Steyn dan vervang sou hy nie gereed wees nie?

’n Snelbattery van Kagiso Rabada, Lungi Ngidi en die opwindende Anrich Nortjé behoort saam met JP Duminy en Dwaine Pretorius/Andile Phehlukwayo oor genoeg skietgoed te beskik om saam tien paaltjies in ’n wedstryd plat te trek.

Steyn is beslis die eerste keuse, maar die volgende spelers kan onder andere in Zondi se Plan B wees:

  • Chris Morris:

Baie meen die 32-jarige veelsydige speler was ongelukkig om nie die Proteas se aanvanklike groep van 15 vir die Wêreldbeker te haal nie.

Morris het al ’n rits eendagwedstryde vir Suid-Afrika gespeel en het tans die agtste meeste paaltjies in die IPL geneem. Hy beskik oor ’n X-faktor wat hom bitter gevaarlik kan maak.

Maar so goed as wat hy kan wees, so kwaai kan hy sukkel wanneer hy van stryk is.

  • Junior Dala:

Junior Dala. Foto: Cricinfo.

Die Titans-snelbouler was die voorste paaltjievraat in vanjaar se Momentum Eendagbeker. In 11 wedstryde het hy 27 paaltjies laat spat teen ’n gemiddeld van 16.59 lopies per paaltjie.

  • Lutho Sipamla:

Daar wag groot dinge op die jonge Sipamla, maar op 20-jarige ouderdom is hy dalk nog te onervare om die span te haal. Hy het tot dusver 19 paaltjies in sy provinsiale eendagloopbaan geneem teen ’n gemiddeld van 29.68 lopies per paaltjie.

  • Dane Paterson:

Dit voel asof Dane Paterson al baie kanse in die internasionale arena gehad het, maar tog het hy nog net vier eendagwedstryde vir die Proteas gespeel. In dié wedstryde het hy vier paaltjies geneem teen ’n hoë gemiddeld van 54.25.

  • Beuran Hendricks:

Die 28-jarige Hendricks se grootste wapen is die feit dat hy linkshandig is en vir lekker afwisseling kan sorg.

Hy is vir die laaste paar eendagwedstryde teen Pakistan oorweeg, terwyl hy met ’n boulontleding van 4/14 in die T20-kragmeting op SuperSport Park teen die Pakistani’s spog.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

8 Kommentare

Martin ·

Dar is baie wat net so swak boul soos hy wat sy skoene kan vol staan.

Nico ·

Al wat ek kan sê soos in Amla se geval moes die keurders hom nooit gekies het nie. Hy moes reeds tydens sy rehabilitasie sy uittrede aangekondig het. Dit is net selfsug en sy eggo wat wat hom laat voortgaan.

JoeL ·

Sy avg in Engeland is 43. Faf is slegs daar vir naam, hy is meer useless as Steyn in n world cup.

Nico K ·

Dale Steyn is van die beste as dit kom by paaltjies neem, maar was nooit baie goed om min lopies af te staan nie. Hy was dus eerder ‘n toets speler as ‘n goeie eendag speler.

JohanL ·

Ek dink nie daar is regtig iemand wat ‘agterbly” in SA wat Dale Steyn se skoene sal kan volstaan nie. Met Rabada, Ngidi en Nortjie reeds daar, dink ek kan hulle eerder na Morris kyk, wat gereken word as ‘n veelsydige speler (teenoor Steyn wat net snelbouler is). Ek dink Dala, Paterson of Hendricks sal ‘n te groot kans wees.

Wat Steyn ook na die span bring is ondervinding en in terme daarvan is Morris die een met die meeste ondervinding (versus Paterson, Dala en Hendricks).

Geen ander werklike snelbouler tans in SA wat ek dink ‘n opsie is nie. Maar kom ons wees positief en glo Steyn gaan reg wees.

PR ·

Stem saam met JohanL. Dankie tog dat daar een persoon is wat enige benul het van krieket op die groot verhoog. Jy kan nie ervaring in so ‘n toernooi koop nie. Ek is wel bekommerd oor Amla se spelpeil.

KL ·

Tyd om hom te drop en nooit weer te kies nie. Nou gaan hy beseer saam..Wéér! Hy kan nie eens deur 4 overs kom nie. Tyd dat Steyn, Faf en Amla(alhoewel Amla n great AVG het in Engeland) maar FAF en Steyn?? Oumans wat nie kan by bly meer nie.

Koos ·

Morris of Hendricks. Dala se statestieke lyk veel beter op papier as as boul werk op die veld.Ek stem saam met kommentators hierbo, Amla en Steyn moes nooit in die eerste plek gekies word nie. Dan steun SA so baie op Steyn dat hulle hom toelaat om IPL te gaan speel? Hy moes ‘n keuse gekry het IPL of wêreldbeker.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.