Williamson gee Kiwi’s ʼn wenkans in derde toets

Suid-Afrika is na dag drie van die derde kriekettoets wat grootliks deur Nieu-Seeland oorheers is, genoeg in die moeilikheid dat ʼn neerlaag in Hamilton ʼn moontlikheid is.

Teen uitskeityd het Nieu-Seeland 321/4 lopies op die telbord gehad – ʼn voorsprong van sewe lopies met nog ses paaltjies staande nadat hulle Suid-Afrika Sondag vir 314 uitgehaal het.

Die Proteas het Maandag swaargekry, hoewel die nuwe bal in die laaste skof met drie paaltjies darem ʼn bietjie troos gebring het vir die slae wat veral die Kiwi’s se kaptein Kane Williamson uitgedeel het.

In die eerste 65 boulbeurte op die derde dag het die Suid-Afrikaanse boulers net een paaltjie geneem toe Tom Latham in die sesde boulbeurt van die oggend (en die 32ste van die kolfbeurt) vir 50 uitgehaal is. Quinton de Kock het ver na sy linkerkant geduik en Morné Morkel het sy 250ste toetspaaltjie geneem – die sede SA bouler wat dit vermag.

Die volgende paaltjie het eers in die 90ste beurt geval toe De Kock sy tweede skitterende vangskoot van Morkel af gevang het. Dié keer was dit die beurt van Jeet Raval, wat geduldig gekolf het aan sy 88 lopies in 339 minute en 254 balle.

♦  Maandag het spel weens die oornagreën ʼn halfuur later as die gewone aanvangstyd begin. Dit was  1½ uur later as die aangepaste tyd weens die tydsverlies op veral die eerste dag.

Suid-Afrika was feitlik uit die staanspoor onder druk. Tim Latham het saam met Jeet Raval die telling tot 83 geneem toe die eerste paaltjie geval het.

En toe begin die eerste werklike toets in die reeks vir die Proteas se boulers toe hulle Williamson, tot ʼn week gelede nog nommer twee op die wêreldranglys, nie kon uitkry nie.

Hy is in  sy eerste drie beurte in die toetsreeks goedkoop uitgehaal, maar dié keer het hy vergoed met ʼn uitstekende honderdtal. Hy het hom nou aangesluit by Martin Crowe wat met 17 honderdtalle die alleenhouer van die Nieu-Seelandse rekord was.

Williamson se honderdtal het in 151 balle gekom en hy het teen uitskeityd 148 nun gehad, aangeteken in 216 balle met 14 viere en drie sesse.

Die Proteas sou stellig nog meer gesukkel het as Ross Taylor, met 16 honderdtalle en ook een van die wêreld se bestes, in die drie toetse vir die Kiwi’s kon speel. Hy is in die eendaagse wedstryde beseer.

Die Suid-Afrikaanse boulaanval was gedissiplineerd maar het net dan en wan die kolf geklop. Die boulwerk was in die geheel sonder veel byt op ʼn kolfblad wat eers net na teetyd effens lewe begin toon het na ʼn bietjie reën waarvoor die spelers nie van die veld is nie.

Die enigste kans wat gebied is, was enkele beurte voor die nuwe bal toe Faf du Plessis van Dean Elgar se vierde opeenvolgende volbal in die boulbeurt ʼn moeilike kans van Raval, toe op 83, laat val het.

Die bal was egter hoër as Raval se midderif en sou op hersiening waarskynlik in die kolwer se guns gewees het.

Na Raval uit is – hy was so byna die eerste Nieu-Seelandse aanvangskolwer sedert 1953 wat ʼn honderdtal kon aanteken – het Neil Broome en Henry Nicholls met opeenvolgende balle van Kagiso Rabada moes stap en was die tuisspan se telling eensklaps op  293/4.

Die Proteas sal veel geruster voel met vier Nieu-Seelandse paaltjies plat, maar die Kiwi’s kan nog Dinsdag met goeie – en vinnige –  kolfwerk tot hier na teetyd se kant toe stewig genoeg staan dat die Proteas op dag vyf sal moet vasbyt.

Maar dan is daar natuurlik nog die reën en lig wat heel waarskynlik Du Plessis-hulle se bondgenoot mag wees …

Klik vir die volledige telkaart en statistieke van die toets: http://www.espncricinfo.com/new-zealand-v-south-africa-2016-17/engine/match/1020045.html

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

JayJ ·

Ons sit met n groot aanvangkolwer probleem. Cook is nie internasionale kwaliteit nie, De Bruyn is nie die antwoord nie, maar ons kan darm op Elgar staat… o nee ons kan ook nie.

Ouboet2 ·

Ek dink ons is in die moeilikheid. Ons is nie so goed as wat ons dink nie.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.