Wisden-ster bestendig in Titans-kleure

Simon Harmer. Foto: Gianluigi Guercia/AFP.

Simon Harmer het al gesê dat hy die “beste wegbreek-bouler ter wêreld is”. Hoewel hierdie stelling ’n paar wenkbroue gelig het, kan niemand oor sy vermoë met ’n krieketbal stry nie.

Die 32-jarige het heel skaflik in sy vyf toetse vir die Proteas vertoon, maar hy het sy stempel dubbel en dwars in graafskapkrieket saam met Essex afgedruk.

Hy was gereeld die voorste draaier op die groen Engelse blaaie, hy het onlangs 14 paaltjies in ’n wedstryd teen Surrey geneem, terwyl hy sy span na Vitality Blast-glorie gelei het toe hy hulle in dié mik-en-mokerreeks aangevoer het.

O ja, hy is ook deur die gesaghebbende Wisden Cricketers’ Almanack as een van die beste krieketspelers van die jaar vereer, nadat hy 83 paaltjies vir Essex laat tuimel het.

Hoewel hy ’n Kolpak-kontrak met die graafskapspan onderteken het, het Brexit sy kanse om toetskrieket vir Engeland te speel in die wiele ry.

Maar waar die een deur na internasionale blootstelling toegaan, gaan ’n ander (hopelik) oop.

Die Pretoria-boorling is tans in die kleure van die Titans in die plaaslike T20-reeks te sien. Hy het gister die boulwerk vir sy span teen die Lions geopen en terstond van Temba Bavuma ontslae geraak, terwyl hy ook ’n vangskoot benut het.

“Ek het nog drome om vir Suid-Afrika te speel. Dit is waarom ek terug is,” het hy in ’n vorige onderhoud gesê.

Die Titans-afrigter Mandla Mashimbyi is opgewonde om Harmer in sy span te hê.

“Simon het baie vaardighede en hy beskik oor ongelooflike krieketkennis. Ek dink hy is tans die beste draaier in wêreldkrieket en dit is lekker om hom hier te hê,” het Mashimbyi gesê.

In ’n land wat met draaiboulwerk sukkel, kan Simon Harmer die moontlike antwoord op baie kwelvrae wees. Suid-Afrikaanse krieket is egter deesdae berug daarvoor dat hy talentvolle spelers en afrigters deur sy vingers laat glip.

  • Harmer se statistiek:

Eersterangse krieket: 646 paaltjies teen ’n gemiddeld van 27,10.

T20-krieket: 82 paaltjies teen ’n gemiddeld van 30,52.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Dirk Mostert ·

Nog ‘n profeet wat nie in sy eie land geeer is nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.