Wisden vereer SA se Lizelle, Dané

Argieffoto van Lizelle Lee. Foto: Saeed Khan/AFP.

Vir ’n krieketspeler is dit ’n hengse klop op die skouer wanneer hy of sy deur die gesaghebbende Wisden Cricketers’ Almanack vereer word.

In die jongste uitgawe van die publikasie tel Dane van Niekerk onder die topvyf spelers van die jaar, terwyl Lizelle Lee as die voorste vrouekrieketspeler aangewys is.

Hoewel die 30-jarige Lee maar met ’n stillerige vertoning by die pasvoltooide Wêreldbeker-toernooi in Nieu-Seeland tevrede moes wees, het haar kolf ongetwyfeld die praatwerk in 2021 gedoen.

Sy het 632 lopies teen ’n gemiddeld van 90,28 geslaan, terwyl haar onoorwonne 132 lopies teen Indië die hoogste telling van haar eendagkrieketloopbaan is.

Haar 288 lopies in vier beurte teen die Indiërs het gesorg dat sy eerste op die Internasionale Krieketraad se kolfranglys gestaan het.

Op haar beurt was Van Niekerk een van die beste spelers in die Hundred-reeks.

As kaptein van die Oval Invincibles het sy nie net toegesien dat haar span met die uiteindelike louere weggestap het nie, maar sy het ook die toekenning vir die waardevolste speler van die toernooi ontvang.

Dan tel Nieu-Seeland se Devon Conway saam met Van Niekerk, Jasprit Bumrah (Indië), Ollie Robinson (Engeland) en Rohit Sharma (Indië) onder die topvyf spelers.

Devon Conway. Foto: Marty Melville/AFP.

Conway, wat in Suid-Afrika gebore is, het die eerste speler ooit geword om ’n 200-tal in sy toetsbuiging in Engeland op Lord’s te slaan.

Hy het dié pragbeurt met 80 lopies op Edgbaston opgevolg om sodoende ’n sleutelrol in die Kiwi’s se eerste reeksoorwinning in meer as 20 jaar in Engeland te speel.

Die Nieu-Seelandse snelbouler Tim Southee het ná die pragbeurte Conway se lof besing en gesê dat die oudleerder van St John’s College in Johannesburg “mal” oor kolfwerk is.

“Hy het reeds ’n hoogste T20-telling van 99 nie uit nie, ’n honderdtal in internasionale eendagkrieket en nou ook ’n dubbelhonderdtal in sy eerste toets. Ons weet nou al vir ’n hele ruk dat hy ’n baie spesiale speler is,” het Southee gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.