Witjas Dar groet elite-groep

Aleem Dar – die bobaas Pakistan-skeidsregter. Foto: Twitter.

Ná altesaam 435 wedstryde het Aleem Dar besluit om die tuig neer te lê as lid van die Internasionale Krieketraad (IKR) se elite-paneel van skeidsregters.

Die 54-jarige Pakistani was in beheer van 144 toetse, 222 eendagwedstryde – al twee wêreldrekords – en 69 T20-kragmetings.

Dit beteken egter nie dat sy wit jas stof in die kas gaan opgaar nie; hy kan steeds as skeidsregter vir wedstryde in Pakistan optree, terwyl kan toer as die IKR dit verlang.

“Ek het die voorreg gehad om wêreldwyd as ʼn skeidsregter op te tree; iets wat my wildste drome oortref het. Hoewel ek steeds gretig is om as ʼn internasionale skeidsregter diens te doen, het ek gevoel dat die tyd reg is om van die elite-paneel weg te stap en vir iemand anders ʼn geleentheid te gee,” het Dar gesê.

Hy was al in beheer van sake by vier Wêreldbeker-eindstryde (eendag- en T20-krieket), terwyl hy drie keer op ʼn streep die trofee vir die skeidsregter van die jaar in ontvangs geneem het.

“My boodskap aan voornemende skeidsregters is om hard te werk, om dissiplinegewys nie slap te lê nie en nooit op te hou leer nie.”

Die internasionale krieketbeheerliggaam het intussen bevestig dat Suid-Afrika se Adrian Holdstock en Pakistan se Ahsan Raza nou deel van sy elite-paneel van skeidsregters is.

Die 52-jarige Holdstock het sy buiging as internasionale skeidsregter in 2011 in ʼn T20-wedstryd tussen die Proteas en Australië in Kaapstad gemaak. Hy het sedertdien in vyf toetse, 42 eendagwedstryde en 48 T20-kragmetings opgetree.

  • IKR se elite-paneel van skeidsregters: Chris Gaffaney (Nieu-Seeland), Kumar Dharmasena (Sri Lanka), Marais Erasmus (Suid-Afrika), Michael Gough (Engeland), Nitin Menon (Indië), Paul Reiffel (Australië), Richard Illingworth (Engeland), Richard Kettleborough (Engeland), Rodney Tucker (Australië), Joel Wilson (Wes-Indiese Eilande), Adrian Holdstock (Suid-Afrika) en Ahsan Raza (Pakistan).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Hennie Biebouw ·

Baie geluk Holle! Nog ‘n Stellenbosch/Boland sukses. Die volgende Suid-Afrikaanse naam wat ons op die paneel gaan sien is Donovan Koch. Koch is welsiwaar desedae ‘n Australiër, maar hy kom uit die Stellenbosch/Van der Stel en Boland krieket wêreld, net soos Marais Erasmus ook.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.