‘Zoeloe’ klaar met Afghanistan

Lance Klusener (5 June 1999) (Foto: John Giles/PA/AFP)

Lance “Zoeloe” Klusener het besluit om nie sy kontrak met Afghanistan te verleng wanneer dit op 31 Desember 2021 verstryk nie.

Die voormalige Suid-Afrikaanse veelsydige speler het in 2019 die hoofafrigtersleisels by Andy Moles oorgeneem en hy was ook aan die stuur van sake by die onlangse T20-Wêreldbeker.

Hoewel die wêreldwye Covid-19-pandemie die internasionale krieketkalender deurmekaargekrap het, het Afghanistan een toets, drie eendagwedstryde en nege T20-kragmetings onder Klusener se toesig gewen.

“Nadat ek twee jaar saam met die span was, sal ek ’n paar onvergeetlike oomblikke saam met my wegneem,” het hy gesê.

Volgens Klusener sien hy uit na die volgende hoofstuk van sy afrigtersloopbaan.

Die 50-jarige oudspeler het vroeër die KwaZulu-Natalse Dolphins en Zimbawe afgerig, terwyl hy aan die stuur van die Brampton Wolves in die Kanadese T20-liga was.

Daarbenewens was hy ook al deel van die Protea-opset toe Enoch Nkwe hom vir die Suid-Afrikaners se rampspoedige toer na Indië nadergetrek het om die kolwers by te staan.

In sy speeldae was Klusener een van die verwoestendste spelers ter wêreld.

Zoeloe het veral tydens die 1999-Wêreldbeker-toernooi in Engeland sy stempel afgedruk en hy het 281 lopies teen ’n gemiddeld van 140 geslaan, terwyl hy ook 17 paaltjies geneem het.

Hy het uiteindelik 49 toetse en 171 eendagwedstryde vir die Proteas gespeel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.