Kwagga wil weer ’n Boksprong maak

Kwagga Smith wil deel wees van Rassie Erasmus se Wêreldbeker-planne. Foto: GB Jordaan.

Een van Suid-Afrika se mees talentvolle jong rugbyspelers, Kwagga Smith, is vasbeslote om sy plek in die Springbokke se Wêreldbeker-groep vir 2019 los te speel. Hy is nou juis terug van Japan waar hy onder hul Top Liga se beste spelers getel het.

Die 25-jarige Smith het vir Yamaha Jubilo uitgedraf en is ná die afloop van die seisoen deur Japannese rugbykenners as die beste in sy posisie aangewys. Met die Wêreldbeker wat op 20 September 2019 in Japan afskop, kan sy soesji-ervaring van onskatbare waarde wees vir ’n Bokspan wat in 2018 met ’n ligskakelaar vergelyk kon word: hulle was gereeld aan-en-af.

“Ek is Januariemaand terug by die Lions vir hul Superrugbyvoorbereiding. Dit is lekker om weer by die Lions te wees; om tuis te wees.”

Smith het op 2 Junie 2018 sy Bokdebuut gemaak in die Washington-toets teen Wallis. Hy is daarna – ten spyte van verskeie sterk vertonings in die Lionstrui – oor die hoof gesien vir die res van die internasionale toetsseisoen.

Een van die dinge wat kwansuis teen hom tel, is sy grootte. Op 1,82 m en 93 kg is hy een van die kleiner losvoorspelers in die land. Daarteenoor laat iemand soos Siya Kolisi die skaal op 105 kg kreun, terwyl Pieter-Steph du Toit (wat ook soms op flank uitdraf) 120 kg weeg. Selfs Warren Whiteley weeg 110 kg.

Tog het een van die grootste agterspelers ter wêreld, die Fidjiaan Nemani Nadolo, hom op Twitter in Smith se hoek geskaar. Dit is nie altyd die swaarste spelers wat meeste impak het nie.

Die reuse Montpellier-senter van 130 kg het getwiet dat Smith nie ’n bang haar op sy kop het nie.

“Kwagga Smith is ’n masjien. Hy laat my dink aan daardie kinders wat in o. 7-wedstryde speel. Hy is die kleinste ou op die veld, maar hy mik altyd om die grootste ou plat te trek. Hy het geen vrees nie,” het Nadolo op sosiale media gesê.

“Ek koester definitief nog Springbokdrome en ek wil só speel dat ek vir myself die beste geleentheid gee om my kaartjie vir die Wêreldbeker te bespreek,” sê Smith.

Kwagga was deel van die Blitsbokspan wat brons by die Olimpiese Spele gewen het. Foto youtube.

Hy het veral vir die Blitsbokke naam gemaak en hoewel hy nou uitsluitlik op vyftienmanrugby konsentreer, is daar tog dae waar hy sewesrugby mis.

“Ja, ek verlang beslis daarna. Ek is onlangs getroud en betree nou ’n fase in my lewe waar ek nie beide kodes kan beoefen en lank van die huis wegbly nie. Dus is Superrugby en die Wêreldbeker my hoofprioriteite.”

In Japan het hy saam met spelers soos Ayumu Goromaru gespeel en teen internasionale sterre soos Dan Carter en Adam Ashley-Cooper.

“Die Japannese spelers is talentvol en hulle is nie bang om hard te werk nie. Ek voorspel dat hulle ’n krag in wêreldrugby sal word.”

• Die Lions se openingswedstryd in aanstaande jaar se Superrugby-toernooi is op 16 Februarie teen die Jaguares in Argentinië.

• Die Springbokke speel op 21 September in hul eerste Wêreldbeker-wedstryd. Teen Nieu-Seeland.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.