Kwotakrieket: dit gaan om meer as net die beginsel

Argieffoto

Argieffoto

Daar kan nie veel fout gevind word met die gehalte van die gekleurde spelers wat vir die Proteas se eendaagse kragmetings teen Ierland en Australië vanaf 25 September gekies is nie. Agt gekleurde spelers het immers drie maande gelede in Wes-Indië met die Aussies klaargespeel.

Maar, selfs met die onaanvaarbaarheid van die nuwe kwotastelsel in ag genome, gaan dit in die praktyk ook veel verder as bloot die minimum aantal gekleurdes in elke Proteaspan (ses, waarvan ten minste twee etniese swart spelers moet wees).

Dit gaan naamlik oor die kombinasies en die balans van die span wat uit die spangroep van (gewoonlik) 15 of 16 gekies word. Dit sal onvermydelik ter sprake kom soos die seisoen vorder en meer beserings met meer krieket voorkom.

Die span sluit byvoorbeeld drie snelboulers, ʼn draaier en ʼn veelsydige naatbouler in. Word die gekleurde snelbouler voor die wedstryd beseer en daar is nie ʼn speler van kleur in die groep om hom te vervang nie, speel ʼn witte in sy plek.

Sover klink dit goed, maar die balans is nou versteur omdat net vyf gekleurde spelers en ses wittes in die span is. Een van die wit spelers moet dan ‘opgeoffer’ word, sê nou maar die aanvangskolwer, waar daar wel ʼn gekleurde speler in die groep is. Of daar moet twee gekleurde draaiboulers wees, en net twee (wit) snelboulers, wat die balans van die boulaanval drasties versteur terwyl die kwotavereistes gehandhaaf word.

Ensovoorts!

Sake word nog meer ingewikkeld om die voorgeskrewe insluiting van ten minste twee etniese swart spelers te behou as iemand sou onttrek. Dit mag dan selfs beteken dat een van die ander gekleurde spelers moet terugstaan sodat ʼn swart speler die kwota-verhouding kan reghou.

♦  Wat betref die spanne vir die kragmetings met Ierland en Australië is daar drie nuwe spelers in die twee SA groepe gekies.

Temba Bavuma en Dwaine Pretorius is slegs benoem vir die wedstryd teen Ierland, terwyl Andile Phehlukwayo vir al die wedstryde gekies kan word.

Morné Morkel is nie oorweeg nie, aangesien hy nog van ʼn besering herstel en Rillee Rossouw is nie wedstrydfiks nie.  AB de Villiers is egter weer slaggereed na sy besering(s).

Phehlukwayo was Suid-Afrika A  se voorste bouler met die meeste paaltjies op sy kerfstok in die onlangse vierhoekige  reeks in Australië. Hy het ook goed vertoon in die vorige seisoen se eendaagreeks.

Pretorius was ook goed op stryk vir Suid-Afrika A. David Miller keer terug na die span  na ʼn skitterende vertoning vir Suid-Afrika A in Australië. Hy het 332 lopies teen ʼn gemiddeld van 110 per kolfbeurt aangeteken.

Temba Bavuma het dusver uitstekend in die toetswedstryde vertoon. Hy het vanjaar ʼn gemiddelde van 66 lopies gehandhaaf. Die tyd is dus ryp om te sien hoe hy in die eendagformaat sal vaar.

Die bepalings teen Ierland en Australië –

September 2016

25 Suid-Afrika vs Ierland, Eendaags, Willowmoorepark
30 Suid-Afrika vs Australië, Eendaags, SuperSportpark

Oktober 2016

2 Suid-Afrika vs Australië, Eendaags, Wanderers
5 Suid-Afrika vs Australië, Eendaags, Kingsmead
9 Suid-Afrika vs Australië, Eendaags, St Georgepark
12 Suid-Afrika vs Australië, Eendaags, Nuweland

Proteas se groep teen Ierland –

AB de Villiers (Titans, kaptein), Temba Bavuma (Highveld Lions), Farhaan Behardien (Titans), Quinton de Kock (Titans), JP Duminy (Cape Cobras), Faf du Plessis (Titans), David Miller (Knights), Chris Morris (Titans), Wayne Parnell (Cape Cobras), Aaron Phangiso (Highveld Lions), Andile Phehlukwayo (Dolphins), Dwaine Pretorius (Highveld Lions), Kagiso Rabada (Highveld Lions).

Proteas se groep teen  Australië –

AB de Villiers (Titans, kaptein ), Kyle Abbott (Warriors), Hashim Amla (Cape Cobras), Farhaan Behardien (Titans), Quinton de Kock (Titans), JP Duminy (Cape Cobras), Faf du Plessis (Titans), Imran Tahir (Dolphins), David Miller (Knights), Chris Morris (Titans), Wayne Parnell (Cape Cobras), Aaron Phangiso (Lions), Andile Phehlukwayo (Dolphins), Kagiso Rabada (Highveld Lions), Tabraiz Shamsi (Titans), Dale Steyn (Cape Cobras).

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

callie ·

Dit raak al hoe eenvoudiger. Ek lewer ook nie meer kommentaar op die krieket nie. Doen dit net nou om vir oulaas te verduidelik. Net soos wat daar van krieket met sy kwotas weggestap word sal daar van rugby met sy kwotas weggestap word. Die kwotas het sport vernietig. Ek kyk nog Saterdag na die Protea en All Black rugby dan sal ek ook n goedkoper dstv pakket vat .
Hoop die minister van sport het sy kwota toeskouers bymekaar anders weet ek nie waar die geld vandaan gaan kom nie.

Jean ·

Ek stem saam, politiek het sport nou heeltemal oorgeneem in SA, ek hoop politici neem dan ook nou die toeskouers se plekke in, want die wedstryde word al hoe swakker bygewoon. Kyk hoe het die pawiljoene nog 5 jaar gelede gelyk en hoe dit nou lyk. Jy kan mense dwing om in ‘n span te speel, jy kan ongelukkig net nie toeskouers dwing om die wedstryde by te woon nie… tensy julle verniet kaartjies begin uitdeel, en deesdae vat meeste van ons dit nie eers meer nie. Ons het klaar die goedkoper DSTV pakket.

Ampie ·

Ek hou nou nie juis plaaslike provinsiale krieket dop nie, want anders as in die verlede beteken die krieket nie veel nie – meerdaags of eendag krieket. Dus is enige speler wat dalk blink in plaaslike krieket nou nie noodwendig ‘n ster nie. SA het wel ‘n klompie klas spelers: AB de Villiers, Amla, Dale Steyn, Rabada en dalk De Kock. Die ander is maar middelmatig, dalk reeds vanwee die kwotas op skool- en provinsiale vlak. Wat wel waar is, is dat kwota spelers soos Behardien, Parnell en Phangiso reeds gewys het hulle kan nie internasionaal meeding nie. Duminy was goed, maar is verby sy beste en is dalk net daar oor kwotas. Dis al.

Kobus ·

Ek het begin van die jaar al na die goedkoper DSTV pakket oorgeskakel, SA rugby en SA krieket het my ‘n jaar of twee gelede al daarna gedryf, dit was net tennis wat my die duurder pakket laat behou het. Maar met die prysstyging vroeër vanjaar het dit ook te duur net daarvoor geword. Dus buiten nou vir die tennis, is daar geen fout met die res van die kanale nie.

Hendrik ·

Ek kyk al lankal nie meer nie en stel ook nie meer belang nie. Dieselfde begin gebeur met die rugby ook en is nie meer onsteld as die Springbokke verloor nie. Met geen DSTV kan ‘n mens egter nie meer sport volg nie en as dit nie vir Pretoria FM se rugby uitsending is nie sou ek alle kontak verloor het.

pieter ·

EK HET NOU BAIE TYD VIR MY GESIN EN VRIENDE MINDER STRES.KYK NIE MEER RUGBY OF KRIEKET.

Hugo Diedericks ·

Net bly hulle is nie meer “Springbokke ” nie, verander asb ook die rugby span na Proteas….dan kan die Sprinbok baadtjie darm nog iets werd wees vir die wat dit op versdienste bekom het. Krieket was my gunstelling sport…kyk al vir jare nie meer nie….

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.