Laat die spele begin

ʼn Dogtertjie gee Dinsdag (3 April 2018) die gelukbringer van die Statebondspele, Borobi, ʼn drukkie by Surfer’s Beach aan die Australiese Gouekus. Die Statebondspele begin Woensdag. Foto: AP Photo/Manish Swarup

Die 21ste Statebondspele begin op 4 April aan die Australiese Gouekus en duur tot Sondag 15 April.

Die spele word elke vier jaar aangebied met nagenoeg 6 000 deelnemers van 71 lande wat in 18 sportsoorte en sewe para-sportkodes sake uitspook. Daar is 133 vroue- asook 133 mansitems en nege gemengde items. Daar word verwag dat soveel as 1,5 miljard mense wêreldwyd die spele op televisie sal volg.

Die laaste spele is in 2014 in Glasgow aangebied. Die medalje-oes is toe deur Engeland en Australië oorheers. Engeland het 174 medaljes gewen wat 58 goues ingesluit het. Australië was tweede met 137 medaljes en Suid-Afrika het sewende geëindig met 40 medaljes. Kanada, Skotland en Nieu-Seeland het almal beter as Suid-Afrika gevaar.

Onder die Suid-Afrikaners is daar vanjaar atlete soos Caster Semenya wat ook die Suid-Afrikaanse vlag tydens die openingsgeleentheid die stadion sal indra. Dié tweemalige 800 m Olimpiese kampioen het nog nie aan die Statebondspele deelgeneem nie as gevolg van beserings. Semenya sal poog om goud in die 800 m en 1500 m te wen.

Chad le Clos het al 12 medaljes op Statebondspele verower en hy sal vanjaar aan agt items deelneem. Cameron van der Burgh sal aan sy laaste spele deelneem.

Daar word ook goeie vertonings van die Blitsbokke in die sewesrugby verwag waar hulle hul goue medalje wat hulle in Glasgow gewen het, sal verdedig. Die Protea-netbalspan hoop ook om ʼn medalje te wen. Suid-Afrika se eerste wedstryde vir die mans- sowel as die vrouehokkiespanne vind Donderdag (5 April) plaas.

Klik hier vir meer inligting.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.