Lambie oor dáái skop, krieket en die pad vorentoe

Pat Lambie. Foto: Facebook.

Dit is die jaar 2014 en die Springbokke is in ’n titaniese stryd teen die All Blacks op die Hoëveld gewikkel. Die Nieu-Seelanders is onoorwonne vir 22 wedstryde en boonop loop hulle ook in dié wedstryd voor. En soos almal weet, die Kiwi’s laat los nie sommer ’n voorsprong as hulle dit eers in hulle hande het nie.

Maar in die 77ste minuut maak Liam Messam droog en die Springbokke kry ’n strafskop binne hul eie helfte…

Koelkop stap ’n 24-jarige Pat Lambie nader. Hy plaas die bal op die skopkelkie, gee ’n paar treë terug en loer so af en toe na die pale: 52 m weg.

Met ’n laaste kyk laat wáái hy met sy regtervoet en stuur die bal sekuur oor die dwarslat. Langs die veld kan Bismarck en Jannie du Plessis kwalik hul vreugde beteuel en die Springbokke wen ’n naelbyttoets 27– 25.

Snaaks genoeg is dié skop nie Lambie se gunsteling rugby-herinnering nie.

“Een van die beste dae in my lewe was in Oktober 2010. Die Haaie het pas die Curriebeker gewen en my naam is in die Springbokgroep uitgelees,” het Lambie aan Maroela Media gesê.

Die 28-jarige oudleerling van Michaelhouse in KwaZulu-Natal het in Januarie sy uittrede uit alle rugby aangekondig, ná ’n reeks harsingskudding-verwante beserings.

“Dit was werklik ’n groot en moeilike keuse en ek het gemengde gevoelens oor my besluit,” sê hy oor sy uittrede.

“Aan die een kant is ek teleurgesteld en hartseer want ek het nog soveel drome wat ek op die rugbyveld wou bereik het, maar dan is ek ook verlig dat ek nie meer risiko’s vir verdere hoofbeserings gaan loop nie. Dit help om te weet dat ek die raad van ’n klomp dokters en spesialiste gevolg het.

“Tans is ek opgewonde oor die volgende hoofstuk van my lewe. Ja, rugby was ’n wonderlike avontuur en ek wens dit kon ’n rukkie langer aangehou het, maar dit is tyd om aan te beweeg. Die toekoms mag dalk anders lyk, maar dit bly steeds baie opwindend.”

Lambie was ’n sportsuperster by Michaelhouse en was die kaptein van KwaZulu-Natal se provinsiale rugby- én krieketspanne.

“Krieket was vir ’n lang tyd my gunstelingsportsoort – dalk omdat ek aanvanklik meer sukses voor die paaltjies gesmaak het as agter die skrum. Dit het egter alles in graad 11 verander. En buitendien, rugby was nog altyd my passie.”

Dink hy skoolbeheerliggame doen genoeg om harsingskudding doeltreffend onder jong spelers te behandel?

“Kyk, ek is nou al 10 jaar uit die skool, so dit is ’n moeilike vraag om te beantwoord. Ek sal wel sê dat ek glo daar is ruimte vir verbetering; veral wat die effektiewe diagnose, behandeling en die bestuur van harsingskudding betref. Genadiglik word tans baie navorsing gedoen en bewusmakingsveldtogte geloods om rugby ’n veiliger sportsoort op alle vlakke te maak.”

Hy het uiteindelik 56 toetse vir die Springbokke gespeel. Foto: Facebook.

Hy het uiteindelik 56 toetse vir die Springbokke gespeel; hetsy op losskakel of op heelagter en het ’n kleedkamer met van dié sportsoort se meer kleurvolle karakters gedeel.

“Ek was bevoorreg om deel van ’n paar wonderlike spanne te wees en kon skouers met ’n hele paar ongelooflike spelers en afrigters skuur. In dié tydperk het ek vriendskappe gesmee en herinneringe opgebou wat vir altyd by my sal bly.

“Ek sal graag op ’n manier wil terugploeg in dié sportsoort wat so baie vir my beteken het. Maar hoe, dít weet ek nog nie op die stadium nie.”

O ja…dáái skop op Ellispark is inderdaad wel die gunsteling-skop van sy loopbaan. En Springbokondersteuners praat daarvan in dieselfde asem as van Stransky se skepskop en Steyn se Britse Leeus-skop.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

GMF ..... ·

Hou hom net baie ver weg van die “SHARKS” ASB. Hy het ons so baie punte gekos dat ons verloor het!!!

JohanL ·

Sterkte Patrick vir wat jy ookal beplan. Ook in my opinie een van die spelers wat te veelsydig was en toe in die proses benadeel is. Ek het hom op losskakel verkies, alhoewel hy agv sy veelsydigheid ook gemaklik heelagter kon speel.

Johan ·

Hartseer dat die skurk CJ Stander basies skotvry afgekom het ten spyte van sy walglike laatvat op Lambie wat direk verantwoordelik was vir sy uittrede

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.