Lewis herskryf Formule Een-rekordboeke

Lewis Hamilton. (Argieffoto: Twitter)

Daar is sekere dinge in sport wat ʼn mens nie gou sal vergeet nie.

Sondagmiddag op die Algarve-baan in Portimao het Lewis Hamilton (Mercedes) sy naam in die rekordboeke verewig toe hy sy 92ste loopbaansege in Formule Een behaal het.

Hy het Michael Schumacher se vorige rekord van 91 loopbaanseges laat spat en die Brit is nog lank nie klaar nie.

Hy sal vanjaar die sewende keer as wêreldkampioen gekroon word en kan nog baie meer as sy 71 seges vir Mercedes (en 21 vir McLaren) agter sy naam skryf.

Toe Schumacher sy eerste oorwinning in 1992 in die Belgiese Grand Prix behaal het, het dit kenners laat regop sit, want hier was ʼn jaer wat in die voetspore van legendes soos onder andere Juan Manuel Fangio, Stirling Moss, Jim Clark, Graham Hill, Jack Brabham en ons eie Jody Scheckter kon volg.

Dit het Schumacher 14 jaar geneem om 91 oorwinnings te behaal. Hy was ʼn ongekende sewe keer wêreldkampioen en daar is nie geglo dat sy rekord gou sou tuimel nie.

Toe Hamilton in 2007 in Montreal sy eerste oorwinning in die Kanadese Grand Prix behaal het, het kenners weer regop gesit. Hier kom ʼn ding, is daar geskryf.

Nou, 13 jaar later, is hy verby Schumacher se rekordgetal.

* Daar was drama in Sondag se ren toe Hamilton, wat in die eerste wegspringposisie was, in die eerste rondte deur sy Mercedes-spanmaat, Valtteri Bottas, en ook Carlos Sainz (McLaren) verbygesteek is terwyl dit liggies begin reën het.

Maar Hamilton het in die 19de rondte sy neus voorgekry en toe was die blote eenrigtingverkeer.

Bottas was Sondag tweede, Max Verstappen (Red Bull) derde en Charles Leclerc (Ferrari) vierde.

Maar hoe sê hulle nou weer: rekords is gemaak om gebreek te word.

Lys van top-jaers se Formule Een-oorwinnings:

92: Lewis Hamilton (Brittanje)

91: Michael Schumacher (Duitsland)

53: Sebastian Vettel (Duitsland)

51: Alain Prost (Frankryk)

41: Ayrton Senna (Brasilië)

32: Fernando Alonso (Spanje)

31: Nigel Mansell (Brittanje)

27: Jackie Stewart (Brittanje)

25: Jim Clark (Brittanje)

25: Niki Lauda (Oostenryk)

24: Juan Manuel Fangio (Argentinië)

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

5 Kommentare

Frans ·

Toe Hamilton sy eerste wedren wen in ‘n Mclaren is die motor aangedryf deur niks minder as ‘n Mercedes enjin nie want dit was ‘n Mclaren Mercedes.Schumacher was ‘n Mercedesbestuurder en die ooreenkoms was dat as Mercedes terugkeer renbaan toe hy vir hulle sou deelneem.
Hy verower su eerste titel in 1994 in Mild Seven Benetton Ford.
Hamilton daarteen begin eers sy stempel afdruk toe Mercedes AMG Petronas F1 Team op die toneel verskyn. Hy was ek dink kampioen in formule een in ‘n Mclaren Mercedes in 2008 toe hy 5 van 18 gewen het.
Sy oorheersing is dus te danke aan Mercedes se fenominale tegnologie en nie soseer sy bestuurders vernuf nie.

Annakapat ·

Whatever! Jy ry mos vir die (beste) span van jou keuse! Werk waar die salaris en omstandighede jou die beste pas!
Jy kies tog of jy Grasshoppers of Niké skoene wil dra?
Lewe bestaan uit keuses en hy het duidelik die regte keuse gemaak maar kritiek sal daar seker altyd wees!
Gun die man sy plek in die son of op die renbaan.
Dit kon net sowel een van die ander renjaers gewees het!

Frans ·

Sir Jackie Stewart says it is ‘hard to justify’ calling Lewis Hamilton the greatest F1 driver of all time and doesn’t even pick him in his top three because his Mercedes car is so superior it’s ‘almost unfair on the rest of the field’

Oujongvrou ·

En Schumacher was nie in staat al vir 4 jr om sy rekord gestand te doen nie. Hamilton sou nie n kat se kans gehad het teen hom nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.