Lions het steeds Super-maanhare

Warren Whiteley. (Foto GB Jordaan)

Ofskoon die Lions ’n hele paar spelers aan oorsese klubs die afgelope paar seisoene afgestaan het – dink aan Franco Mostert, Faf de Klerk en Jaco Kriel om net ’n paar te noem – het die naweek se oorwinning in Argentinië gewys dat Warren Whiteley en sy leeutrop dalk wéér in die Superrugby-eindstryd kan brul.

“Die Lions het definitief die spelers en die ervaring om vir die vierde agtereenvolgende jaar in die eindstryd te speel,” sê Barend Smit.

Smit was destyds die SA Skolekaptein en hy het ook die Leeuwelpies in die o. 21-Curriebeker aangevoer. Dan was hy ook op skool saam met Johannesburgse brekers soos Kwagga Smith en Andries Coetzee.

“Ja hulle het ’n paar sterre verloor, maar verlede jaar het hulle óók spelers verloor, sowel as coach Johan Ackermann. Ten spyte van alles het hulle steeds die eindstryd gehaal.”

Maar wag, sê een van die land se blinkste jong rugbybreine, moenie die wa so vinnig voor die perde inspan nie.

Gerhard Swarts, die Valke se tegniese adviseur, sê dis nog ietwat té vroeg in die seisoen om jou Lions-trui vir die eindstryd te koop.

“Dit is nog ʼn bietjie vroeg, al het hulle ’n goeie eerste oorwinning in Argentinië behaal. Dinge gaan moeiliker wees met die spelers wat hulle afgestaan het, tog is daar ’n goeie korps jong spelers, soos Wandisile Simelane, wat by ervare manne soos Lionel Mapoe kan leer.

“Die feit dat hulle die wa deur die drif in Buenos Aires kon trek, het ’n groot sielkundige struikelblok uit die weg geruim. Nou kan hulle op een wedstryd op ’n slag konsentreer,” sê Swarts.

Smit voel dat die Lions se wenkultuur die rede vir hul onlangse sukses is.

“Letterlik elke speler het by hierdie kultuur aangepas. Daar is veral klem op nederigheid, diensbaarheid en die Here gelê.”

Dan is die Lions se driedrukvermoë vanuit gebroke spel ook kookwater, terwyl Malcolm Marx en Kwagga Smith sorg dat hulle ook goed om die bal meeding vanuit ’n verdedigingsoogpunt.

Die Lions se Aphiwe Dyantyi. Foto: Facebook.

“Aphiwe Dyantyi maak my opgewonde! As hy die bal kry, kan jy seker iets verwag,” sê Swarts.

Tog kan jy nie die aantal spelers wat hulle verloor het ignoreer nie.

“Ek dink die grootste verlies is beslis Franco Mostert. Hy was ’n leiersfiguur onder die voorspelers en hy het gereeld die donkiewerk vir die span gedoen. Maar tog word elke speler se posisie weer gevul,” sê Smit.

“Ek dink steeds hulle kan in ’n vierde eindstryd speel.”

Die Lions speel Saterdag op Nuweland teen ’n Stormers-span wat verlede week sleg op Loftus slae gekry het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.