Lions se Ferreira word ’n Hurricane

Andries Ferreira sal vir die res van die seisoen in Hurricanes-kleure uitdraf. Foto: Facebook.

As die Lions se spelers kontant was, sou hul bankrekening oor die afgelope twee seisoene baie vinnig begin leeg loop het.

Met spelers soos Jaco Kriel, Franco Mostert, Faf de Klerk en Rohan Janse van Rensburg wat hul heil oor die waters gaan soek het, is nóg een deur ’n oorsese klub gekontrakteer.

Die 28-jarige slot, Andries Ferreira, sal vir die res van die Superseisoen vir die Hurricanes in Nieu-Seeland uitdraf.

Die oud-Affiesleerder het reeds Sondag saam met die Wellingtonse span begin waar hy die beseerde Sam Lousi, wat ’n borsspier beseer het, vervang.

Die Kiwi’s sien uit na die kragspel wat Ferreira aan hul enjinkamer sal verleen. En hoe dan anders: hy laat die skaal op 120 kg kreun, terwyl die maatband na 1,97 m moet rek om hom te meet.

Die ’Canes se hoofafrigter, John Plumtree, was opgewonde oor Ferreira se koms.

“Ek het baie respek vir die wyse waarop Andries speel en die spel benader. Ons glo hy gaan beslis baie waarde tot die groep bydra,” het hy gesê.

Plumtree het vir ’n paar seisoene die Sharks afgerig en weet dus wat die oud-Johannesburger na die Hurricanes-partytjie kan bring.

“Ons is werklik opgewonde met ons jong spelers se werkverrigting in die eerste drie wedstryde van die seisoen en ons dink Andries sal lekker ervaring tot die groep verleen, terwyl hy ook sal help om die jonger spelers te skaaf.”

Ferreira is reeds beskikbaar vir die Hurricanes se volgende wedstryd teen die Highlanders.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Frans C ·

Nou hoef ek nie meer te wonder wat van die man geword het nie.Die Skrywer het vergeet
om van Rooyen en Dreyer se name by sy lysie te voeg.

Jerry ·

Ek persoonlik dink hy sal n beter loopbaan he in NZ. Te veel politiek in SA

Duiwelsadvokaat ·

Groot verlies vir die Lions. Kon saterdag sien hulle was maar dun in die slotposisie. Mostert en Ferreira was gedug saam.

Frans C ·

Baie dankie.Uiteindelik iemand wat gesien het,wat ek gesien het.Sonder die twee en uit die voorry van Rooyen en Dreyer, asook ‘n beseerde Brink en Whitley,was die Leeus nie opgewasse teen die Bulls nie.

Dit is om die rede dat ek die Bulls se oorwinning nie te hoog aanslaan nie.Daarmee sê ek nie dat hul nie ‘n welverdiende oorwinning behaal het nie,maar probeer om dit in perspektief te stel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.