Luister: Vandag se sportnuus

England se Joe Root in aksie. Foto: (AP Photo/Rui Vieira)

Krieket:

Die Australiese krieketspan wil van vandag af op die Oval in Londen dit invryf en ook die vyfde toetswedstryd in die reeks om die As teen Engeland wen.

Die Aussies, wat seker gemaak het dat hulle nie meer die reeks kan verloor nie toe hulle die vierde toets op Old Trafford gewen het, wil die reeks met 3-1 beklink, die eerste keer in 18 jaar op Engelse bodem.

Engeland het Chris Woakes en Sam Curran onderskeidelik nader getrek in die plekke van Jason Roy en Chris Overton. Die veelsydige Ben Stokes (skouerbesering) sal nie kan boul nie en is as kolwer ingesluit, terwyl die Aussies se Mitchell Marsh in Travis Head se plek ingesluit is.

Die toetswedstryd begin om 12:00 (SA tyd.)

Die spanne is: Engeland: Rory Burns, Joe Denly, Joe Root, Ben Stokes, Jonny Bairstow, Jos Buttler, Sam Curran, Chris Woakes, Jofra Archer, Stuart Broad, Jack Leach.

Australië: David Warner, Marcus Harris, Marnus Labuschagne, Steven Smith, Matthew Wade, Mitchell Marsh, Tim Paine (k), Pat Cummins, Peter Siddle/Mitchell Starc, Josh Hazlewood, Nathan Lyon.

Die Suid-Afrikaanse A-krieketspan is met sewe paaltjies in die vierdagtoets teen Indië A in Thiruvananthapuram verslaan.

SA A is in sy tweede beurt vir 186 lopies uitgehaal (Heinrich Klaasen 48, Wiaan Mulder 46, Zubayr Hamza 44) nadat hy slegs 164 lopies in sy eerste beurt kon aanteken.

Indië A het 303 in sy eerste kolfbeurt aangeteken en het net 48 lopies (49/3) vir ʼn oorwinning benodig wat hy binne 9.4 boulbeurte aangeteken het.

Fietsry:

Philippe Gilbert. Foto: (AP Photo/Alvaro Barrientos)

Die Belgiese fietsryer Phillipe Gilbert het Woensdag die 17de skof van die Vuelta a Espana (Spaanse toer) gewen met die gunsteling Nairo Quintana (Colombia) wat tot die algehele tweede plek opgeskuif het.

Gilbert en sowat 40 ander jaers het in sterk dwarswinde van die peloton af weggebreek. Sam Bennett van Ierland het die voortou in die jaagtog na die eindstryd geneem, maar hy is sowat 500 voor die einde deur Gilbert verbygesteek met Remi Cavagna (Frankryk) derde.

Quintana het 5 minute en 19 sekondes op die algehele voorloper Primoz Roglic (Slowaak) ingehaal.

Vandag se 18de skof vind oor 177 km tussen Colmenar Viejo en Becerril de la Sierra plaas.

Atletiek:

Die omstrede Amerikaanse naelloper Chris Coleman het Woensdag op Instagram ontken dat hy ooit enige middel gebruik het om sy vertonings te verbeter.

Coleman het die afgelope jaar drie keer opkikkertoetse misgeloop (die onus rus op atlete om die toetsingbeamptes in kennis te stel van hul doen en late). Hy het op ʼn tegniese punt losgekom en is toegelaat om aan die komende Wêreldkampioenskap in Doha deel te neem.

Hy het wel erken dat hy nie die toetsingbeamptes laat weet het waar hy hom bevind het nie. “Ek werk hard in oefeninge, drink water en Powerade,” het Coleman gesê. Hy het gesê dat mense nou dink dat hy ʼn idioot is en dom was om sulke foute te begaan. “Niemand is perfek nie, mense begaan foute,” het Coleman gesê.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Sparks ·

Lions slaap nog. Sharks koop .lions se paviljoene gaan leeg loop

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.