Matie-kaptein wil Varsitybeker met trofee groet

Chris Massyn op die aanval vir Maties. Foto: Facebook.

“Ek is baie tevrede dat ons die gunstelinge vir Maandagaand se Varsitybeker-eindstryd is. Ons het in die begin van die seisoen vir ons ’n paar doelwitte gestel: Onder andere om die seisoen onoorwonne af te sluit en aan die einde van die reeks met die silwerware huis toe te gaan.”

Aan die woord is die Universiteit Stellenbosch se kaptein, Chris Massyn.

Maties het reeds een van hul doelwitte bereik – ná agt wedstryde is hulle onoorwonne in die toernooi en gisteraand het hulle die Shimlas 47 – 5 in die halfeindstryd ore aangesit.

Nóú wag Tukkies Maandagaand vir hulle in die eindstryd van die reeks op die Danie Craven‑stadion in Stellenbosch. En Massyn se troepe is sonder twyfel die gunstelinge, tog waarsku hy dat sy span nie té oorgerus kan wees nie.

“Daar is beslis druk in só ’n eindstryd en ons sal ons beste moet gee.” Massyn – ’n oudleerling aan die Hoërskool Monument – was ook vir vyf jaar deel van Tukkies se opset.

“Daar gaan beslis emosies betrokke wees wanneer ons Maandag teen hulle speel. Baie van die jong outjies saam met wie ek daar gespeel het, het nou grootgeword; en dit is baie lekker om te sien.

Toe hy bekers vir Tukkies gewen het. Foto: Facebook.

“Dit is ’n gepaste einde tot my Varsitybeker‑loopbaan. Ek het by Tukkies begin en nou speel ek vir Maties teen die Pretorianers in die eindstryd van my laaste seisoen,” het hy gesê.

Maties was vanjaar weer ’n driedrukmasjien en het onder andere 84 – 26 met UWK en 66 – 5 met Ikeys afgereken.

“Veral ons agterste driehoek is bittergevaarlik en ’n speler soos Chris Smit het ’n ongelooflike jaar. Maties is tradisioneel bekend vir hul hardlooprugby en ons pak voorspelers gaan definitief die agterspelers op die agtervoet plaas.”

Hy beskryf sy rol as kaptein eerder om die spelers kalm te hou, as om ’n adrenalien-vonk op die veld te verskaf. Met ander woorde, hy probeer sy bes dat Maties nie iets onverantwoordeliks doen wanneer hulle op hul teenstanders se doellyn boer nie.

Massyn het sy BCom-graad by Tukkies voltooi en is tans besig met sy nagraadse diploma op Stellenbosch.

“Die Varsitybeker is verseker goed vir rugby in Suid-Afrika. Ek het al ’n bietjie professionele rugby gespeel en die intensiteit verskil nie veel nie – dit maak die ouens mooi gereed vir groter rugby.

“Maar jy moet onthou om te swot ook!” voeg hy laggend by. “Jou rugbyloopbaan kan jou net so ver neem en jy moet iets hê om op terug te val as dit verby is. Ek is baie spyt dat ek nou te oud is en nie nog verder Varsity-rugby kan speel nie. Dit is ’n wonderlike reis en ek sal enigiemand aanraai om te speel.

“Ek wag al ’n rukkie vir Maandag se eindstryd en ek hoop ons kan die beker lig.”

  • Maties se uitslae:

33 – 8 teen Wits

66 – 5 teen Ikeys

26 – 24 teen Tukkies

50 – 15 teen SUT

43 – 15 teen Pukke

24 – 13 teen UJ

59 – 14 teen Shimlas

84 – 26 teen UWK

47 – 5 teen Shimlas

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.