Mening: 13 Bok-toetse in 21 weke net deel van ʼn sportbedryf

Die Stormers het die Bulls in die eindstryd van die Verenigde Rugbykampioenskap geklop. Foto: GB Jordaan.

Suid-Afrikaanse rugby was die afgelope maande nog méér in die kollig, met die seges in die Wêreldbeker en teen die Britse en Ierse Leeus wat ietwat op die agtergrond geskuif is – en ons spelers het oorsee feitlik oral aandag getrek.

Daar was die Stormers en die Bulls wat saam met die Sharks en die Lions die oorsese kenners, en ook gewone aanhangers, met hul vertonings in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) geskud het. Ja, dis reg: ook die Lions, wat vyf van hulle laaste ses VRK-wedstryde gewen het.

Hier is ʼn paar voorbeelde van ons gehalte-spelers oorsee wat in eindstryde van die voorste kompetisies die oog gevang het:

▪ Die speler van die wedstryd in die eindronde van Engeland se Premierliga, was die Springbok-agsteman Jasper Wiese, wie se spanmaat Hanro Liebenberg in die Leicester-wenspan teen Saracens met sy inklimspel en harde werk self gehalte-spel gelewer het.
▪ Die speler van die wedstryd in die eindronde van die Kampioenskapreeks was La Rochelle se vleuel, Dillyn Leyds, met nóg ʼn Bokvleuel, Raymond Rhule, wat nie veel vir sy spanmaat teruggestaan het nie. Wiaan, broer van uitblinker Hanro in die Premierliga se eindstryd, het voorlangs ook vir die Montpellier-wenspan teen Leinster met sy harde werk die aandag getrek.
▪ André Esterhuizen is deur die Premierliga-kollegas as hul speler van die Premierreeks aangewys.
▪ Tuis het dié eer Evan Roos toegeval in die VRK-eindstryd wat sy Stormers gewen het, en hy het ook die toekenning as die beste speler in dié splinternuwe VRK-reeks gekry. Ons moet onthou dat die voorste spanne van vyf lande in dié kompetisie speel: Ierland, Wallis, Skotland, Italië en Suid-Afrika.
▪ Jan Serfontein was in die beginspan van Montpellier wat die Top14-reeks se eindstryd teen Castres gewen het, met nog twee Springbokke, Handré Pollard en Nico Janse van Rensburg, wat plaasvervangers was.

Moenie oorsese spelers vir die Bokke kies nie”

Jake White. Foto: GB Jordaan.

Bostaande spelers was dié uitblinkers van die voorste oorsese kompetisies. As jy na al die oorsese uitblinkers vanuit ons ligas kyk, selfs dié wat die afgelope twee jaar eers oorsee begin speel het, verstaan jy die redenasie van Jake White dat Suid-Afrikaanse spelers wat oorsee hul brood verdien, nie vir die Bokke mag speel nie.

Jake, dikwels uitgesproke maar meestal reg met sy sienings, het ʼn punt beet: Daar moet iets gedoen word aan die oormatige spelerverlies aan oorsese klubs en selfs lande. Maar wat?

Hulle terugkeer sal Suid-Afrikaanse rugby tuis geweldige diepte gee. Dit is veral nóú nodig met ons vyf franchise’e wat voortaan in die Curriebekerreeks én die twee oorsese ligas, die VKR én om die Kampioenebeker/ Uitdaagbeker moet speel.

Afhangende van hoe die spanne in die oorsese ligas vaar, beteken dit dus so by die 30, en selfs meer, wedstryde en ʼn hele paar vlugte per speler na Europa. En dis sonder die Curriebekerreeks!

Jake se redenasie maak sin. Ek stem egter nie saam dat dit so streng gemaak moet word dat ons voorste oorsese spelers nie vir die Springbokke gekies mag word nie. Die kruisbestuiwing van hulle oorsese spanmaats, afrigters én teenstanders in die taai ligas is goud werd vir dié van hulle wat van oorsese spanne af in die toetsspan is.

Boonop sal talle spelers hier bly, hul Bokkleure verwerf en dan eers die pad na die groot geld vat.

Ontwikkeling van Suid-Afrikaanse spelers by oorsese klubs

Ek het hierbo na kruisbestuiwing verwys. Kyk maar hoe het van ons manne oorsee ontwikkel: Rhule, wat in sy paar toetse as ʼn Bok-grap beskou is; Esterhuizen wat ʼn meer dimensionele speler as blote stampkar geword het; Leyds wat ná sy (ek meen sewe) toetse skielik weer na ʼn toetsspeler lyk; Wiese en sy broer Cobus (slot), met eersgenoemde reeds ʼn Springbok en Cobus baie na daaraan; en vele ander, soos ondermeer Tyron Green, Rohan Janse van Rensburg, Ivan van Zyl…

Is daar te veel sport?

Die talle voorspellings oor die jare dat mense se vrye tyd sou toeneem, word die afgelope tyd toenemend bewaarheid deur ondermeer die wêreldwye toename in werkloosheid en groter armoede. En, soos voorspel is, word dit deur die toenemende tegnologiese ontwikkelings vererger.

Een van die aangenamer gevolge is natuurlik die werkskeppingsfunksie van sport tot op ʼn vlak waar dit ʼn polsende bedryfsektor geword het. Dit bring vreugde aan ondersteuners en skares en het ʼn nuwe bedryf in eie reg geword, wat roemryke en ook winsgewende loopbane in veelvuldigheid het.

Ja, ʼn mens voel dikwels daar is eenvoudig te veel sporte as gevolg van die najaag van administrateurs om vir hul sportbase, en natuurlik hulle eie sak, die maksimum inkomste te beding. Meer borgskappe, meer toernooie, groter salarisse… Dink maar aan die nuwe PGA-vrouekampioen, Minjee Lee (26), wat in dié toernooi sowat R28 miljoen gewen het.

Maar, soos ek hierbo gesê het, is sport die afgelope 30 jaar – in gevalle selfs langer – ʼn ekonomiese bedryf in eie reg. Dis ook nie nét geldmaak deur die sporte en hul eienaars en administrateurs nie.

Vir elke denkbare sport, ook amateur-sporte, is daar op nasionale vlak administratiewe werk en rompslomp wat die gewone man nie besef nie.

Spanne het jare al eie afrigters, dokters, fisioterapeute en kundige personeel wat omsien na die gehalte van speeloppervlaktes. Ure word gewy aan onderhandelings oor die veiligheid in en om stadions (ook oorsee), oor verkeersreëlings en oor die verkoop van kaartjies.

Daar is ook die sport se bemarking deur die beheerliggaam, selfs op die vlak van die speler of span. Besoekende spanne het ʼn skakelbeampte wat hulle bystaan met reëlings en navrae. Daar moet omgesien word na toerspanne se eetvoorkeure/ diëte.

Die reiskoste en verblyf vir vandag se spansporte, en ook individue soos gholf- en tennisspelers, is iets ysliks en in spanverband ʼn yslike hap uit inkomste. Dan is daar ook die koste van beserings en, afhangende van die sport, ook versekeringskoste, ensovoorts!

Ons het byvoorbeeld sedert die naweek van 17 Junie reeds ondermeer ʼn verskeidenheid rugbyreekse of -toetse gehad:

VRK: Stormers vs Bulls, eindstryd
Pacific Super Rugby: Halfeindstryde en Blues vs Crusaders, eindstryd
Curriebeker se Premierliga: Blou Bulle vs Griekwas, Vrystaat vs Pumas, halfeindstryde
Curriebeker se Eersteliga: Oostelike Provinsie vs SWD Arende, Griffons vs Black Lions (Georgië), halfeindstryde
Curriebeker-eindstryd: Griekwas vs Pumas
Franse Top14-reeks: Halfeindstryde en die eindstryd tussen Montpellier en Castres
Cravenweek voorbereidingswedstryde: Noordvaal Bondedag, talle provinsiale wedstryde elders
Cravenweek vir o.13s, Grant Khomoweek vir o.16s, dogters se provinsiale toernooie
Ander:
Engeland vs Barbarians
Junior Springbokke vs Engeland
Junior Springbokke vs Ierland
Springbokvroue vs Zimbabwe en ook Namibië

13 toetse in 21 weke vir die Bokke

Die Springbokspan Foto: GB Jordaan.

Natuurlik, terwyl die Bokke teen Wallis speel, is daar ook die inkomende toere se toetsreekse tussen Australië en Engeland, en (veral) ook tussen Nieu-Seeland en Ierland nadat die Kiwi’s einde verlede jaar so in Dublin verniel is. Die Poemas speel teen Skotland.

Op 6 Augustus begin die Springbokke se verpligtinge in die Rugbykampioenskap teen die All Blacks, Wallabies en Poemas, met ses toetse binne sewe weke tot 24 September wat wag. Genadiglik is daar dan blaaskans tot 5 November wanneer hulle op vier opeenvolgende naweke teen Ierland, Frankryk, Italië en Engeland speel.

Australië, Nieu-Seeland, die Poemas, Fidji en Japan speel ook in Europa.

Intussen is die VRK se 2022/ 2023-reeks net om die draai, en begin die Kampioene- en Uitdaagbeker-reeks reeds voor Kersfees. Dan is daar ook sewesrugby se Wêreldbeker in Kaapstad.

Dis genoeg om jou kop te laat draai.

Voeg daarby die T20-Wêreldbeker, die Statebondspele, die Wêreld-atletiekkampioenskappe vanaf 15 Julie, die voortgesette Diamant-atletiekliga, Wimbledon, en wie weet watter ander byeenkomste en toernooie in vele ander sporte.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

John ·

Hoekom kla White oor die weglating van oorsee se springbokke. Soos hy aangaan met al hulle geld sal hy wel meeste van hulle binnekort by die bulle he.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.