Mening: Is die vroeë druk, verwagtinge op skolevlak goed vir rugby?

(Argieffoto ter illustrasie: Pixabay)

Oordoen ons nie ons skolerugby nie? Neem ons nie die lekkerte van rugbyspeel weg met die oormatige klem op oorwinning nie? Verwag ouers nie te veel van hul kinders nie?

Dié vrae het weer by my opgekom toe ek verlede week ʼn gesprek tussen twee van my buurvroue hoor waar die ene trots vertel dat haar graad 1-seuntjie “vanmiddag rugbyproewe gaan speel”.

En terwyl ek nog daaraan herkou, hoor ek van ʼn onderwysvriend in die Wes-Kaap dat sy laerskool verlede week hul onder agts se spangroep van 20 spelertjies vir die seisoen gefinaliseer het. Hulle is vanjaar hoofsaaklik in graad 2.

Daar word sommer deur hom bygevoeg dat daar veranderinge aan verlede jaar se span is. Daar sal dus nou ander pa’s (die ouers van die uitverkore kleintjies) wees wat as groep weekliks saam sal braai en kuier.

Natuurlik sal verskeie ouers se drome van toekomsroem (en natuurlik sakke vol geld) sommer met die intrapslag by die graad 1-proewe verwoes word omdat baie van die knape geen belang in die spel (vir hulle bloot ʼn oninteressante speletjie) getoon het nie. Dis die klompie wat sommer net oor die veld rondloop terwyl die ander, met of sonder kennis van die reëls, die bal jaag.

Keuring gedaan en die toekoms wink … nou vir die skaafwerk, aanleer van hantering, reg val as jy getêkkel word, laagvat. Dit word op laerskool gedoen waar die wen van wedstryde belangrik genoeg is dat ʼn spangroep van sewe- en agtjariges saamgestel word.

En dit skud jou as jy verneem dat daar onder 12-spelers is wat aanbiedinge kry om ʼn laerskool se onder 13’s die volgende jaar te gaan versterk – en ook dat uitblinker o. 13’s reeds links en regs gewerf word vir hul volgende jaar se rugby in die hoërskool.

Bemarking van die skool

Die rede? Vir baie van die skole is hul suksesvolle rugbyspan ʼn belangrike deel van hul bemarking.

ʼn Mode het posgevat waar buitensporig-betaalde afrigters by die voorste rugbyskole aangestel word. Hulle is dikwels bekende oudspelers wat nie noodwendig die slag van ʼn goeie afrigter het nie.

Uitstekende spelers wat jare lank in die junior A-spanne gespeel het, maak dit later nie na die hoërskool se eerste span nie omdat daar sterre van elders “aangekoop” word.

Die ware afrigters

En die werklike afrigters, wat lief is vir die spel en hul afrigtingsvernuf met jare se afrigting by ouderdomspanne geleer het, word nie tot eerstespanafrigter bevorder nie omdat ʼn buite-afrigter ten duurste bekom word.

Daar is nie meer afrigterslegendes by skole nie, soos Skonk Nicholson wat Maritzburg College ʼn krag gemaak het; of Hans Coetzee wat wie weet hoeveel Springbokke en provinsiale spelers by Monument opgelewer het; Basil Bey, wat oor 27 jaar die spelers by Bishops geleer het om die spel te geniet en opwindende rugby te speel, met die uitslag nie noodwendig van allergrootste belang nie; en Allan Miles, die afgelope vyf jaar by Grey High in die Baai nadat hy ander Oos-Kaapse skole soos Graeme College, Selborne College en St. Andrews College onder hande gehad het.

Uitsoek-rugbyskole

Dit het feitlik praktyk geword dat dit net die uitsoek-rugbyskole was wat die voorste spelers vir Cravenweke en latere louere opgelewer het. En daar is al jare lank die onvergenoegdheid van “koop” van spelers wat dikwels meer as net skoolfonds en koshuisgeld beloop het.

Maar sake is aan’ t verander.

Kyk maar na die 2019-Wêreldbeker-wenners. Sewentien van die 32 spanlede was nie op een van hierdie uitsoekrugbyskole nie. Hulle word met vet letters aangedui.

(Dis seker ook onregverdig om skole soos KES, Bishops, Maritzburg College en Jeppe as “spelerkopers” aan te dui).

Voorspelers:
Schalk Brits (Paul Roos), Lood de Jager (Hugenote, Springs), Pieter-Steph du Toit (Hoërskool Swartland), Eben Etzebeth (Tygerberg), Steven Kitshoff (Paul Roos), Vincent Koch (Hugenote, Springs), Siya Kolisi (Grey High PE), Francois Louw (Bishops), Frans Malherbe (Hoër Jongens Paarl), Malcolm Marx (KES), Bongi Mbonambi (St. Alban’s College), Tendai Mtawarira (Peterhouse, Zimbabwe), Franco Mostert (Hoërskool Brits), Trevor Nyakane (Ben Vorster, Tzaneen), Kwagga Smith (HTS Middelburg), RG Snyman (Affies), Duane Vermeulen (Hoërskool Nelspruit).

Agterspelers:
Lukhanyo Am (De Vos Malan High School, King Williams Town), Damian de Allende (Milnerton High), Faf de Klerk (Waterkloof), Warrick Gelant (Outeniqua), Elton Jantjies (Florida), Herschel Jantjies (Paul Roos), Cheslin Kolbe (Brackenfell), Jesse Kriel (Maritzburg College), Makazole Mapimpi (Jim Mvabasa Secondary School, King William’s Town), S’bu Nkosi (Jeppe Boys), Willie le Roux (Paul Roos), Handré Pollard (Paarl Gim), Cobus Reinach (Grey Kollege), Frans Steyn (Grey Kollege).

SA Skolespan

Net tien van hierdie 32 Wêreldbeker-Bokke het vir die SA Skolespan in die 21 Cravenweke gespeel sedert die oudste lid van die span, Schalk Brits, dit in 1999 reggekry het.

Dié tien spelers is Steven Kitshoff, Siya Kolisi, Warrick Gelant, Elton Jantjies, Jessie Kriel, Frans Malherbe, Malcolm Marx, Bongi Mbonambi, RG Snyman en Handré Pollard.

Vir baie spelers en hul ouers se drome sal die volgende statistiek moontlik as ʼn skok kom:

  • Sedert 1964 het 887 seuns vir die SA Skolespan uitgedraf. Net 101 van hulle het in die 56 Cravenweke (tot 2019) Springbokke geword en van hulle was nie toets-Springbokke nie.
  • As jy alle Springbokke tel wat Cravenweek-rugby gespeel het, en nie net dié uit die SA Skole-geledere nie, is die persentasie Cravenweek-Bokke minder as 2% – dus vier tot vyf spelers gemiddeld by elke Cravenweek wat sal voortgaan om later die Groen en Goud te dra.
  • Die kanse is nog veel minder as jy na die o. 13-uitblinkers kyk, want net sowat een uit vyf (20%) spelers van die o. 13-Cravenweke speel later in die o. 18-toernooi. Dit beteken hul Bok-kanse is onbenullig klein: 2% van die 20%.

Dit is ook ʼn waarskuwing vir die spel dat slegs sowat 5% matrieks naskools nog rugby speel. En dít is nadat daar reeds veel minder kinders in matriek nog rugby speel as wat die geval op laerskool was.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

7 Kommentare

Jack ·

Ja beslis.Die druk is groot.Dit is nie meer soos toe ons jonk was en rugby gespeel het nie…daar is nou twee afrigters met een spanbestuurder en ‘n borg wat resultate wil hê.Verloor jy moet die afrigter maandag oggend verslag oor wedstryd indien by die skool.Wen is alles by die GROOT rugby skole.

ABDP ·

Stem saam, maar die druk kom op alle vlakke voor, self oop kultuur vlak. Elke ma dink haar donkie is ‘nr resies perd, in plaas daarvan dat die moeders vir ‘n slag die harde werk en lading wat op die donkie se rug rus roem. Elke kind het potensiaal, en dit lê nie in sukses nie. Dit lê is deursettings vermoë en hardewerk, tenspyte van sukses. Dit is in die belang van die kind om teen hom of haarself te verbeter…..let wel…..te verbeter, nie kompiteer nie.

Kiepie ·

Van wanneer af is AFFIES (RG Snyman) nie ‘n GROOT rugbyskool (en veral een van die grootste koper van skolespelers) nie?

MakersMark ·

Druk om te wen is te veel op die hele sisteem en uiteindelik voel die spelers dit die ergste. SA het by verre die sterkte skole rugby in die wereld maar dan ook die hoogste vlak inmenging van ouers en die hoogste gebruik van verbode middels onder alle skool sportmanne ter wereld. Kyk hoeveel belowende SA spelers twee na drie jaar uit die skool word gestraf as hul skuldig bevind word vir steroiede. En dan was dit nooit hul wat wetende dit gebruik het nie was die dr voorskrif vir ‘n besering of die hoesstroop wat ouma gegee het. Ongelukkig maak ons skole rugby sisteem in sommige gevalle’n spul leuenaars groot.

Jack Russ1 ·

Daar is baie druk op die spelers, maar dit is nie net in rugby nie.

Ek glo ook nie dat SA die hoogste gebruik van verbode middels onder skool sportmanne ter wereld het nie. Het jy die dokumentasie om dit te staaf? Party is net beter om dit weg te steek en onder die mat in te vee. Kyk maar net hoe lank het Lance Armstrong weggekom met al sy verbode middels.

Ek gaan nie stry dat daar baie verbode middels gebruik word nie en ek is seker die meeste mense sal geskok wees as hulle sien hoeveel word gebruik, maar om te sê SA is die ergste din ek nie is reg nie

MakersMark ·

Lance Armstrong was ‘n professional fietsryer wat miljoene dollar verdien het met sy eie entourage dokters wat sy gebruik van steriode help wegsteek het ten spyte van ‘n streng toets regime deur die fiertry beheerliggaam. Op skolesport vlak word GEEN toetsing van spelers gedoen nie behalwe “random” toetsing by die Cravenweek. Steroids is in elke gym en elke skoolgrond in SA vrylik te koop. Toetsing in ander amateur sport op skole elite vlak oor die wêreld is baie strenger en daarvoor het ek bewys. En as jy kyk na hoeveel SA senior spelers die afgelope ruk gevang is dan is dit duidelik dis ‘n aanvaarde kultuur vanaf junior vlakke. So ek staan 100% by my punt.

Kompas ·

En so kry die gewone “vaal seuns” wat net rugby wil speel omdat dit lekker is , nie plek in ń span nie omdat die kinders wat “gewerf” word voorkeur kry.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.