Mening: Ondanks al die ontwrigtings gaan dit goed met ons sport

Kyle Verreynne. Foto: Riaan de Bruyn/RDB Photography.

So tussen die gepolitiekery en geknoei wat krieket al baie maande (jare?) teister, die voortdurende verlies aan rugbyspelers wat oorsee hul inkomste gaan aanvul en die Covid-pandemie wat op sportgebied steeds sy tol eis, gaan dit goed met ons voorste sportspanne. Dis as jy nou nie die skandelike eendagreeksnederlaag van die Proteas teen Bangladesj in ag neem nie.

Nog ontwrigtende faktore in ons sportsukses is natuurlik die eie‑ek-houding en gepaardgaande (voortgesette) onkonstitusionele optrede van die geskorste WPRVU-president Zelt Marais. Hy het klaarblyklik ʼn stalmaat uit die OP gekry. Dié unie se nuwe voorsitter, Maasdorp Cannon, is deur SA Rugby gevra om ʼn aantal omstrede uitlatings – onder meer dat hy SARU daarvan beskuldig dat hy ʼn rassistiese instansie is – te kom verduidelik.

Daar is egter só baie ernstiger sake as selfs hierdie genoemde sportgekkery wat die aandag trek dat baie van die prestasies óf ongesiens verbygaan óf nie na waarde geskat word nie.

Vroue-Proteas

Hoeveel mense weet dat die Proteas-vrouespan na krieket se Wêreldbeker-halfeind deurgedring het? Hul rekord: Vyf gewen, een verloor en een afgelas weens reën by die skrywe van die artikel. Hulle moet nog teen Indië speel, maar het reeds vir die halfeind gekwalifiseer.

Die twee halfeindbepalings sal op 30 en 31 Maart gespeel word en die eindstryd op 3 April.

Mans klop twee voorste spanne voor eendagskande

Tom Latham en Dean Elgar ná die reeks tussen Nieu-Seeland en Suid-Afrika gelykop geëindig het. Sanka Vidanagama / AFP.

Terwyl ons by krieket is, moet ʼn mens darem ook stilstaan by die twee manspanne se suksesse. Binne die bestek van agt weke het die Proteas onder Dean Elgar die wêreld se nommer een-span, Indië, met vasbytkrieket in die drietoetsreeks geklop nadat ons die eerste toets verloor het.

En dit was ondanks die gesukkel van waarskynlik hul beste kolwer Aiden Markram.

Benewens Markram se voortgesette rits lae tellings en ʼn speler of twee wat weens krieket se politieke beleid nie daar hoort nie, wen die Proteas onder Temba Bavuma toe boonop ook die eendagreeks 3-0 teen Indië.

Oorgerustheid? ʼn Mens sal nie weet nie, maar toe gooi Elgar-hulle in die eerste toets in Nieu-Seeland teen die Kiwi’s naam weg … en wen die tweede om die reeks te deel.

Die was eintlik ʼn merkwaardige prestasie, want Nieu-Seeland was toe die nommer een‑toetsland ná Indië wat weens sy reeksnederlaag teen die Proteas afgeskuif is.

▪ Oor die lamsakkige twee pogings teen Bangladesj wat hulle ondanks ʼn skittersege in die tweede wedstryd die reeks gekos het, sê mens liewer niks nie.

Dit is egter darem so dat Bangladesj nie ʼn hierjy se eendaagse span is nie. Hulle is tans bo-aan die lys 12 kwalifiserende spanne vir die eendaagse Wêreldbekertoernooi.

Besoekende spanne verloor agt uit agt

Van die gesukkel met hul intrapslag in die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) verlede jaar, het die vier Suid-Afrikaanse franchise’e teruggeveg. Met behulp van die hitte, en by die Bulls en Lions ook die hoogte bo seespieël, het hulle agt uit agt wedstryde teen die besoekende spanne gewen.

(Foto: GB Jordaan)

Die gevolg? Drie van Suid-Afrika se spanne tel ná verlede naweek tussen die voorste agt van die 18 spanne.  Daar is ook drie van Ierland (Leinster, Ulster en Munster) en twee van Skotland (Glasgow Warriors en Edinburgh) in die topagt.

Die Lions was na hul twee oorwinnings 14de op die punteleer. Wallis se voorste span, die Ospreys wat ook hier gespeel het, is in die negende plek.

Al vier die Suid-Afrikaanse spanne het gewys dat hulle nie hul spel net om die voorspelers bou nie. Daar was pragtige drieë, lekker hardlooprugby en ook goeie voorspelerspel.

▪ Deur vele van die baie gifskrywers in Brittanje is die Suid-Afrikaanse spanne se oorwinnings afgemaak omdat die Britse en Ierse spanne se beste spelers tydens hul besoeke hier afwesig was en in die Sesnasies-reeks diens gedoen het.

Vergeet hierdie rugbyskrywers nie dalk van die honderde Suid-Afrikaners wat hulle kompetisies in Brittanje versterk en ons eie spanne hier verswak nie? Dink net hoe goed sou ons spanne gewees het net met die toevoeging van die sowat 240 wat in die oorsese topligas speel!

Blitsbokke

ʼn Mens hoef ook nie eers meer as melding te maak van die Blitsbokke se prestasies nie. Hulle het nou ses agtereenvolgende toernooie gewen. Hulle het ook die rekord vir die meeste agtereenvolgende sewes-oorwinnings van 26 tot 34 verbeter.

Covid speel steeds ʼn rol

Intussen het Covid steeds ʼn uitwerking op Suid-Afrikaanse sport.

In die Boland is die aanvang van die ligaseisoen vanaf 5 Maart tot 23 April uitgeskuif. Dit volg ná SA Rugby se beleidsbesluit dat die amptelike Covidriglyne soos in die Staatskoerant afgekondig, gevolg moet word.

Liston Manuels, waarnemende uitvoerende hoof van die Boland Rugbyunie, het met die uitstel van die liga se afskop volgens die Facebook van Boland Klubrugbynuus gesê ʼn opname deur die unie het gewys dat “minder as 10% van ons ledetal” ingeënt is.

“Hierdie syfer is ver onder SA Rugby se verpligte vereiste dat alle spelers ingeënt moet word voor die hervatting van alle vorme van klubrugby,” het Manuels bygevoeg.

Klubs moes ook vanaf 7 Maart afskrifte van alle spelers se inentingsertifikate vir vriendskaplike wedstryde indien.

Dit gaan nietemin klopdisselboom met die Boland se vriendskaplike wedstryde, en by die Westelike Provinsie neem daar oor naweke tot 45 klubs, die meeste met ʼn paar spanne, aan vriendskaplike wedstryde deel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Kirst ·

Waar is al die negatiewe galbrakers wat altyd verkondig hoe hulle nie meer SA sport kyk nie en hoe politiek en kwotas ons sport vernietig het nou?

Vrijburger ·

Hulle is nie hier nie, want hulle lees nie die artikels nie want hulle ondersteun nie meer SA sport nie. LOL

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.