Mening: Onvergeetlike jaar met heelwat goed en sleg

Suid-Afrika se Olimpiese swemmer Tatjana Schoenmaker (Foto: @southafricasportimages en @Team_Mzansi/Instagram)

ʼn Uiters uitdagende en ook frustrerende 2021 vir Suid-Afrikaanse sportspanne en -spelers in feitlik alle sportsoorte en op alle vlakke staan einde se kant toe – en om verskeie redes, goed en sleg, was dit ook ʼn jaar wat nie sommer vergeet sal word nie.

Wêreldsport se grootste skouspel, die Olimpiese Spele, was vir ons ʼn volslae mislukking. Dankie aan Tatjana Schoenmaker, ons voorslag-swemmer, vir haar goue en silwer medalje (insluitende ʼn wêreldrekord) en aan Bianca Buitendag vir haar branderplank- silwer medalje. En dit was al waaroor ʼn mens opgewonde kon raak.

Ek bespreek later, in effens meer detail, onder meer ʼn uitstaande voorbeeld van hoe SASKOK die pad byster was met ʼn paar kort voorbeelde van hoe die gewildste sportsoorte gevaar het.

Daar is natuurlik honderde sporte waaraan deelgeneem word, maar dis uiteraard ʼn onbegonne taak om na almal te verwys of die sport afsonderlik te bespreek.

Ek beperk die artikel dus tot rugby, krieket, sokker, netbal en die Olimpiese Spele. Die drie sporte wat egter die gewildste onder Suid-Afrikaners is – sokker, rugby en krieket  – kan darem in ʼn mate bors uitstoot.

Olimpiese Spele

Die Suid-Afrikaanse span van 167 lede by die Olimpiese Spele in Japan was die grootste nog, en die keuse van waterpolo as ʼn deelnemende sport met soveel spelers (13 vroue en 13 mans, plus natuurlik bestuur) is meer as lagwekkend.

Dit was ʼn sporttragedie en ongetwyfeld vir die deelnemers ʼn verleentheid. Die mans was in hul groep sesde uit ses spanne, het al vyf hul wedstryde verloor en net 20 doele teen 116 aangeteken.

Ntando Mahlangu en sy Paralimpiese spanmaats het darem vir nog hoogtepunte gesorg. (Foto: Thomas LOVELOCK / OIS/IOC / AFP)

Ongelooflik soos dit mag klink, was die vrouespan se vernedering nóg groter. Al vier wedstryde is verloor, en 97 doele teenoor ʼn skamele sewe was die resultaat. Die twee spanne het saam in hul tien wedstryde 27 doele aangeteken en 213 doele afgestaan.

Vir hierdie mislukking moet die onderskeie sporte wat deel was van die chaos, en veral ook die SA Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (SASKOK), pa staan.

Die vertonings was ʼn skande, en allermins die onopgewasse spelers se skuld.

Is dit nie voorsien nie?

Maar nou ja … dit was seker maar goeie oorredingsvermoë van waterpolo se kant af wat SASKOK van die sport se mededingingsvermoë oortuig het!

Rugby

Die Springbokke vier hul reeksoorwinning teen die Britse en Ierse Leeus. Foto: GB Jordaan.

Suid-Afrikaanse rugby het sy kop omhoog gehou en die Britse en Ierse Leeus in ʼn taai en kontroversiële reeks, gekenmerk deur swak wedstrydbeamptes, met 2-1 geklop.

Die reeks het die besoekers bevoordeel nadat die twee toetse in Gauteng na Kaapstad verskuif is. Die verbod op toeskouers by wedstryde het SA Rugby (Saru) natuurlik duur te staan gekom.

Daar was ook plaaslike rugby, moontlik te veel, maar die spelers moes maar bontstaan omdat beeldsending van wedstryde die broodnodige inkomste aan SA Rugby voorsien het.

Toe die 2020/21-seison se Curriebeker-reeks op 30 Januarie deur die Blou Bulle gewen is, het ek aan Naas Botha se spitsvondige “waarskuwing” vroeg in die 1987-kompetisie gedink toe die destydse Transvaal met ʼn vaart weggespring het: “Die Curriebeker word nie in Mei gewen nie,” het hy die Transvaalse rugbyskrywers en publiek gewaarsku.

Hy het al 24 die Ligbloues se punte in die eindstryd met vier skepskoppe en vier strafdoele aangeteken en Transvaal het 18-24 verloor.

En toe het ons in die huidige kalenderjaar sommer twee Curriebeker-reekse wat op 30 Januarie en in September beslis is!

▪ Dit was ʼn seisoen wat deur spanne gekenmerk is wat weens die Covid-pandemie moes onttrek, nasionale reekse wat ontwrig is, en die nasionale spanne – van wie tot 18 weke in die nuwe bioborrel-noodsaaklikheid – in hotelle moes bly.

Suid-Afrika se rugby het nietemin sy kop omhoog gehou en die Britse en Ierse Leeus in die reeks met 2-1 geklop. Die enigste “toerwedstryd” wat die Leeus gespeel het, was teen die SA A-span, wat eintlik maar die Bokke in ʼn ander gewaad was.

Uit ʼn nasionale oogpunt was die grootste teleurstelling, selfs ontsteltenis, die twee nederlae teen die Wallabies in Australië waar feitlik die hele Rugbykampioenskap se wedstryde gespeel is.

Jacques Nienaber. Foto: Twitter.

Versagting? Ja, die Bokke se 18 weke in die bioborrel, en Australië en die Wallabies wat twee keer oorsee aangedurf moes word nadat die ou stelsel by die pandemie aangepas moes word.

Daar was ʼn paar nuwe uitblinkers in ons plaaslike spanne. Jacques Nienaber het sy oorsese net wyd gespan en ʼn hele paar nuwe gesigte sal ongetwyfeld in 2022 stadig in die Bokke se spanne groter rolle begin speel.

Was die plaaslike rugbyreeks goed? Natuurlik, maar die Covid-ontwrigting enersyds en te veel kere wat spanne teen mekaar moes speel andersyds, het die glans van die plaaslike reekse ietwat verdof. Twee Curriebeker-reekse, ʼn SA Superreeks, die Reënboogreeks en uiteindelik, ná die toetsrugby, die Verenigde Rugbykampioenskap.

Voeg daarby 13 toetse en dit klink na te veel rugby.

▪ G’n wonder daar was so baie beserings nie. Die Cheetahs moes in November hul laaste wedstryd in die uitdaagtoernooi teen die Sharks, Stormers, Diables Barcelona (Spanje) en Baia Mare (Roemenië) hul span kies sonder oorweging van 15 spelers wat beseer is.

▪ Die Bulls het plaaslike rugby oorheers – die Superreeks, twee Curriebeker-reekse en die Reënboogreeks gewen – maar in die eindstryd kwaai slae teen Benetton gekry (8-35). Hulle het darem op klubvlak ʼn volle Carltonbekerreeks gehad.

Die Leeus het ook ʼn stewige klubkompetisie gehad, maar daar is nie om die Piratesbeker gespeel nie, en die Sharks het hul Moorbeker se wedstryde ná Augustus gestaak.

Die Westelike Provinsie het ʼn paar onderlinge vriendskaplike wedstryde gespeel, maar president Zelt Marais se bestuurstyl het die WPRVU, benewens aansien, van ʼn hele seisoen se rugby ontneem.

Genadiglik het SA Rugby sy unie se administrasie oorgeneem.

Krieket

Die Protea-krieketspan. Foto: Twitter.

Suid-Afrika se internasionale krieket was ook maar so-so en is deur die wisselvallige, dikwels onvergenoegde, bestuursprobleme gekenmerk, asook ʼn ondersoek na rassisme sedert die Proteas weer in 1992 begin krieket speel het.

Ou koeie, maar die politieke sloot was diep en is ook nog nie heeltemal by sy einde nie. Die grootste hoogtepunt was die nasionale vrouespan wat darem die halfeindstryd van die T20-Wêreldbeker gehaal het.

Ter versagting vir die Proteas se mans was daar die verlies van drie werklike grotes in ons geskiedenis: AB de Villiers, Faf du Plessis en Vernon Philander.

Die beheptheid met kleur vanuit SAKV se geledere het gemaak dat die nasionale manspan aan ʼn kwotabeleid onderworpe was en selde tot sy reg gekom het.

ʼn Mens het met ondeurdagte spankeuses kop laat sak oor die verlore speelgeleenthede van soveel van ons beste spelers.

▪ Die Proteas se manspan was einde November nog sesde op die toetsranglys en vyfde in die twee korter weergawes van die span.

Die vroue se eendagspan lê vierde en is vyfde op die T20I-ranglys.

Sokker

Bafana Bafana het verlede maand bloot ʼn gelykop-uitslag teen Ghana in hul laaste kwalifiserende wedstryd benodig om vir die volgende Wêreldbeker te kwalifiseer.

Hulle is egter deur skeidsregter Maguette N’Diaye van Senegal beroof, wat vir sy algehele vertoning en nie net die wendoel in die doodsnikke nie, deur FIFA ondersoek is.

ʼn Rassie Erasmus-soort ontleding is van die wedstryd gedoen. FIFA se beslissing was by die skryf hiervan nog nie bekend nie.

  • Voor die vorige Wêreldbeker in 2018 het die skeidsregter Joseph Lamptey (toevallig van Ghana) ook die wentelling van 2-1 van Suid-Afrika oor Senegal beïnvloed. Die wedstryd moes oorgespeel word, Senegal het gewen en in die Wêreldbeker gespeel. Lamptey is lewenslank uit die sport geskors.

Weddenskappe op strafskoppe en ander oortredings is volgens SAFA se ontleding die rede vir die eenogige vertoning van skeidsregter N’Diaye en sy wedstrydbeamptes twee weke gelede.

Ons sal maar moet sien of daar besluit sal word om die wedstryd oor te speel.

Netbal

Die Protea-netbalspan wat in Windhoek amok gemaak het. Foto: Twitter.

Volgens die South African Journal of Sports Medicine (Vol. 32 van 2020) speel sowat ʼn halfmiljoen meisies op skool en omtrent 9 500 skoolverlaters in Suid-Afrika netbal.

Ongelukkig het die pandemie ʼn goeie geleentheid teen van die wêreld se voorste spanne in die Karibiese toernooi, insluitende Australië, in Oktober gekelder.

Die Proteas het nietemin die Afrikanetbalbeker in die eindstryd met 65-39 teen Namibië gewen en hul titel behou.

Afrigter Dorette Badenhorst is besig om haar span vir aanstaande jaar se Statebondspele reg te kry waar hulle onder meer teen die drie grotes, Nieu-Seeland, Australië en Engeland, sal meeding.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.