Mening: SA spelers versterk oorsese rugby; skep ook meer geleenthede tuis

Northampton het nege drieë teen die Bulls gedruk. (Foto: X/Northampton Saints)

Die gekerm en gekla wat ontstaan het oor Jake White se besluit om met ʼn uitgedunde Bulls-span in die kwarteindronde van die Kampioenebeker teen die sterke Northampton te speel, krap steeds by baie van die Britse en Ierse klubs.

Maar dit kan dalk net die begin wees van rugby se broodnodige ‘hervorming’.

Want soos sake nou staan, is die spel besig om homself met geld en omstrede besluite – op én van die veld af – te verstrengel.

Die waarheid is dat die spel se hoë gehalte in Europa in ʼn aansienlike mate deur van ander lande se beste spelers aan die gang gehou word. Kyk maar net hoe wemel dit van Springbokke en ander Suid-Afrikaanse spelers in Ierland, en veral in Brittanje en Frankryk.

Voeg daarby die All Blacks, die voorste Argentynse spelers, Fidjiane, Samoane en Wallabies wat in Europa speel. En moet Japan nie weggooi as ʼn land waarvan die rugby grootliks op buitelandse kontraktering gebou word nie.

Daar is natuurlik vir Suid-Afrika die voordeel dat dit hierdie oorsee-gekontrakteerde spelers baat om saam en teen die bestes uit die Europese lande te speel. Maar daar is ook ʼn teenkant, naamlik dat die ‘uitvoerlande’ soos Suid-Afrika se plaaslike ‘spelersproduk’ – en dus ons plaaslike rugby – met die eerste oogopslag verswak word.

Maar hier onder wys ek darem op die voordele van die spelers wat hier speel.

Die gevolg van Jake White se besluit om trouens met wat as ʼn B-span beskryf is na Northampton te reis, het rugbybase van die lande wat om die Europese Kampioenebeker meeding aanvanklik warm onder die kraag gehad. Daar was selfs dreigemente dat Suid-Afrika uit die Europese Kampioenereeks gegooi moet word omdat White glo ‘nie respek vir die kompetisie’ gehad het nie.

White-optrede toe al die tyd ʼn ‘guns’

Jake White. Foto: Twitter)

Maar White het die kompetisies van die EPCR (European Professional Club Rugby) inderwaarheid ʼn guns bewys, en hulle erken dit nou. Daar sal in aanstaande jaar (of is dit seisoen?) groter omsigtigheid aan die dag gelê word met die bepalings wat oorsese vlugte betref.

Intussen het Leinster die afgelope naweek ook met ʼn effens verswakte span na Johannesburg gevlieg om in ʼn VRK-wedstryd teen die Lions te speel. Rede? Hulle moet op 4 Mei in ʼn halfeindronde om die Kampioenebeker teen Northampton speel – en die manne moet darem meer as net ʼn week ná ʼn retoervlug na Suid-Afrika ruskans voor so ʼn groot wedstryd kry, of hoe?

Veral die Engelse koerante se gekerm en die snedigheid van Courtney Lawes, wat in die Wêreldbeker-verloorspan teen Suid-Afrika was, is nou deur die rugbybase se besluit op hul plek gesit.

John Plumtree, afrigter van die Sharks, het hom ook nie aan die dreigemente oor die ‘verswakte’ Bulls-span gesteur nie. Hy het die afgelope naweek sy volle opdrafspan vir die afgelope oorsese wedstryd teen die Glasgow Warriors verander – van heelagter tot agsteman. Hulle het wel verloor, maar Glasgow laat uithaal om 21-10 te wen (drie drieë teen twee).

  • Ons, die gewone rugbyondersteuners, besef nie aldag hoeveel dit verg om in Europa te gaan speel nie. Dink net, wanneer die Bulls, Lions of Sharks teen die Stormers speel, is die duur van die hul vlug langer as wat dit heelparty van die Britse spanne neem om in Frankryk of Italië te gaan speel. En dan praat ʼn mens nie eens van die toustaan by die doeane nie!

Voordele van SA-spelers wat oorsee speel

Daar is geen twyfel dat die ondervinding, die kennis, die afrigting, verskillende speelstyle en benaderings, Suid-Afrika se oorsese spelers, en daarmee ook ons nasionale span, op die lange duur  tot voordeel strek nie.

Handré Pollard in aksie vir Leicester Tigers. (Foto: X/Leicester Tigers)

Dit is ongetwyfeld ook so dat ons eie vyf franchise’e, as ál die bestes hier sou speel, veel sterker spanne sal kan kies om die Europeërs dan aan te durf – en hulle sal dan, in elk geval aanvanklik, sonder van hulle spanne se sterre uit Suid-Afrika sukkel.

Die negatiewe gevolg in so ʼn uiterse onwaarskynlikheid sal wees dat ons ter plaatse ook verskeie spelers, wat tans die plekke inneem van dié wat oorsee rugby speel, se ontwikkeling in mindere of meerdere mate onderdruk.

En dit kan ons rugby op die langtermyn op internasionale vlak knou

Aussies maak dit moeilik vir Nieu-Seelandse superspanne

Is dit omdat daar sedert die begin van die jaar reeds 12 Kiwi’s was wat hul rugby oorsee speel dat hulle spanne in die Superliga swaar trek? ʼn Mens sal nie weet nie.

Die All Blacks se nuwe afrigter Scott Robertson, wat by Ian Foster oorgeneem het, is ʼn voorstander daarvan dat oorsese spelers vir die All Blacks se toetse gekies mag word.

Intussen is die Crusaders, vir wie ‘Razor’ Robertson lank afgerig het, tussen die laaste drie spanne op Superrugby-punteleer. Nieu-Seeland en Australië het elk vyf spanne in die kompetisie en Moana Pasifika (Stille Oseaan-eilande) en Fidji Drua een elk.

Ou suurknol Foster

Suid-Afrika moet ophou met tyd mors in wedstryde, sê die pas-afgetrede hoofafrigter van die All Blacks, Ian Foster.

Ian Foster. (Foto: All Blacks/Facebook)

Hy meen as voorbeeld die All Blacks se Wêreldbeker-oorwinning oor Italië (telling 96-17) was lekkerder om na te kyk as Suid-Afrika se veel moeiliker stryd teen Ierland, waar die telling 8-13 was.

Sekerlik nie vir die Italianers nie, en die Iere en Bokke se armdruk-wedstryd was darem ook krag teen krag.

Foster doen ʼn beroep op Wêreldrugby om meer speeltyd per wedstryd te verseker. En dis ʼn sinvolle beroep, behalwe dat Wêreldrugby reeds ʼn geruime tyd aan die tyd-in-spel-vereiste aandag gee!

  • En vir Foster, en ook ander jaloerses, kan ʼn mens boonop daarop wys dat die All Blacks in vier van hul laaste ses wedstryde teen die Bokke geklop is.

Wat tel die slagting van Italië vir die passievolle All Blacks-ondersteuners in die groot wedstryde? Mooi rugby, hardlooprugby, ja. Maar…

De Bokke se patroon werk, en die All Blacks het dit in verlede jaar se Wêreldbeker-eindstryd (11-12) en in die laaste opwarmwedstryd voor dié kompetisie in Frankryk op Twickenham (7-35) gevoel.

SA-vroue mik na Wêreldbeker

Stadig, sou party mense van vrouerugby se ontwikkeling sê, maar daar word gewerk daaraan om tussen die top 10 spanne in te skuif.

Ondanks nederlae teen Skotland (7de op die ranglys) en die VSA (9de) en ʼn naelskraapse oorwinning oor Spanje (13de) op die toer einde laasjaar, is afrigter Louis Koen optimisties oor die Afrika-kampioenskap wat in Mei in Madagascar begin.

Die wenner daar speel in die 2025-toernooi in Engeland. Wen hulle nie, is daar ook ander maniere waarop hulle vir die groot toernooi kan kwalifiseer.

Veral die Bokke se skrumwerk was deurgaans goed op die Europese toer einde verlede jaar, en hulle het die twee spanne teen wie hulle verloor het deeglik in hierdie afdeling laat les opsê.

Die 28-tal vir die Afrika-toernooi word eersdaags aangekondig.

O.12’s wat op internasionale vlak speel?

Die Blou Bulle se o.12’s het verlede week in Monaco die sewestoernooi in die eindstryd teen Montpellier gewen. Hulle het ook verlede jaar gewen toe hulle Georgië geklop het.

Is dit nie ietwat vreemd, eintlik verspot, om ʼn internasionale kompetisie op dié ouderdom aan te bied nie?

Die toernooi, waaraan 24 spanne uit 20 lande deelgeneem het, was die inisiatief van die oud-Suid-Afrikaner, prinses Charlene van Monaco.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.