Mening: Twee ligpunte tussen die sport-warboel

Quinton de Kock het gister 140 lopies van slegs 70 aflewerings geslaan. Foto: Twitter.

Hedendaagse sport sluit ʼn verwarrende warboel feite en persoonlikhede in wat selfs die grootste sportentoesias deurmekaar laat.

Feitlik alle sporte het die afgelope jare onvoorsiene groei getoon. Dit is ondermeer te danke (of is dit dalk te wyte?) aan ʼn reeks omstandighede, waarvan die soms belaglike somme geld wat spelers verdien slegs een is. Dis in elk geval ʼn sosio-ekonomiese studie waardig.

Maar met die wegspring kyk ons eers na ván die baie sporte en gebeure – en later volg ʼn fokus op die pronkprestasies van ons vier franchise’e en ook die rugbytoer van Wallis wat om die draai is.

Daar was die afgelope week of twee ondermeer die volgende byeenkomste en kompetisies aan die gang: die PGA-gholftoernooi; die kwarteindrondes van die Verenigde Rugbykampioenskap (VKR); die IPL wat einde se kant toe staan en waar Quintin de Kock terloops 140 in 70 balle geslaan het, met Aiden Markram, David Miller, Faf du Plessis, Kagiso Rabada wat ook in die reeks uitgeblink het.

En so van krieket gepraat: die Suid-Afrikaanse span speel vanaf 9 tot 19 Junie in vyf T20-wedstryde teen Indië in Indië, wat ʼn appeltjie te skil het ná hulle in Suid-Afrika die toetsreeks en ook die eendagreeks teen die Proteas verloor het.

Gerda Steyn het die afgelope naweek in Manchester deelgeneem en met ʼn bra middelmatige tyd tiende in die 10 km-wedloop gekom. En dié naweek is daar ʼn wedloop oor dieselfde afstand in die Baai, waar van Suid-Afrika se voorste vroue-atlete deur internasionale sterre getoets sal word.

Voeg daarby die skolerugby wat met ʼn knal weer die aandag trek, te meer oor die derbies van Limpopo tot in die Wes-Kaap. Ongelukkig was daar dusver veels te veel weghol-tellings. Daar was die  Wêreldrugby se sewestoernooi en die Blitsbokke se onverklaarbare gesukkel in Toulouse, waar die vroue-sewesrugbyspan ook as genooide span deelgeneem het.

Zelt Marais se voortgesette geloof dat hy steeds die WP se president is, trek met spotlaggies ook nog so ʼn bietjie aandag.

Die vroue se nasionale rugbyreeks, en die Curriebeker Eersteliga wat einde se kant toe staan en waaraan amperse nasionale spanne van Georgië, Kenia en Zimbabwe deelneem, is ook dinge wat weens al die groter sporte onder die radar beweeg.

Daar was die afgelope tyd weer ʼn bespreking by Wêreldrugby oor ʼn jaarlikse Wêreldreeks. Geen detail is bekend gemaak nie. En Saterdag speel Leinster teen La Rochelle in die eindstryd van die Europese Rugbykampioenskap. Dit bly boonop ʼn onbegonne taak om tred te hou met die koop en verkoop, en nou ook die leen, van rugbyspelers.

Intussen is daar ook hoofafrigter Bafana Nhleko se deeglike beplanning om die onder-20s op koers te kry; die Franse Ope met minder van die ou helde en ʼn rits opkomende jonges; en boks wat weer wêreldwyd vlamgevat het.

Die afgelope twee weke was daar ook die beweerde wangedrag van Elton Jantjies op ʼn internasionale vlug; die Formule 1 Grand Prix in Spanje; die blink vertonings van ons swemmers in die Mare Nostrum-swembyeenkoms in Monaco…

Wie volg nog die Superreeks waaraan Nieu-Seeland en Australië (en ook Fidji en Samoa) se spanne deelneem?  En hoekom is daar niemand wat eintlik iets te sê het oor die onverkwiklikhede op en langs die veld wat in ons skolerugby opslae maak nie?

Manchester City het Sondag weer die Engelse Premierliga, met drie doele in die laaste kwartier, gewen.

En so gaan dit aan en aan, te veel detail en vrae vir die meeste mense. En natuurlik ʼn teelaarde vir bespiegelinge.

Wallis mik na eerste sege in Suid-Afrika

Die Springbokke het vir Wallis met 19 – 16 in die Wêreldbeker-halfeindstryd geklop. (AP Photo/Aaron Favila)

Meer in fokus as bostaande, is die besoek van die Walliese rugbyspan met drie toetse (2 Julie op Loftus, 9 Julie in die Vrystaatstadion en op 16 Julie in die Kaapstadstadion).

Wallis is een van die Bokke se oudste en grootste ‘rugbyvyande’. Die land, waarvan die vier spanne Cardiff, die Scarlets (Llanelli), die Ospreys (Swansea) en die Dragons (Newport) deur die jare die kern was, het uit die staanspoor (in 1906) die Bokke laat uithaal. Wallis was tóé reeds ʼn rugbyland soos min, met ʼn rugbygees wat miskien net deur Suid-Afrika en Nieu-Seeland geëwenaar is.

Tog het hulle eerste oorwinning oor die Bokke eers in die 13de kragmeting gekom toe hulle in 1999 met 29-21 in Cardiff gewen het. Toe gaan daar 16 wedstryde verby voordat hulle dit in 2014 herhaal het. Een oorwinning vir die Bokke het toe gevolg voordat Wallis die laaste vier van hul ses oorwinnings in 37 wedstryde in 2016, 2017 en 2018 (twee keer) behaal het.

▪ Dit is interessant dat Wallis en Suid-Afrika in die laaste drie Wêreldbekertoernooie teen mekaar gespeel het. Die Bokke het al drie wedstryde naelskraap gewen.
2011:     SA wen 17-16 (in Nieu-Seeland)
2015:     SA wen 23-19 (kwarteindronde op Twickenham)
2019:     SA wen 19-16 (halfeindronde in Japan)

Wallis is met rede lugtig om in Suid-Afrika teen die Bokke te speel – en veral in die drie stadia waar hulle oor vyf weke hul toetse begin speel.

In 1998 het die Springbokke hulle met 96-13 op Loftus verniel. Die einste Loftus, waar die eerste toets oor vyf weke plaasvind, was ook die veld waarop hulle met 53-18 (2004) geklop is. Hulle sal ook dink aan die 21-37 pak wat hulle in 2008 op Loftus gely het nadat hulle die vorige week in Bloemfontein met 17-43 verloor het.

Hulle het in 2002 ook in Kaapstad met 8-15 verloor.

Die wêreld het kennis geneem van ons VKR-spanne

Die vertonings van Suid-Afrika se vier spanne in die eerste reeks van die Verenigde Rugbykampioenskap (VRK) het die wêreld laat regop sit. Van Europa se voorste spanne is vasgevat en geklop – en om drie van die vier plaaslike spanne in die uitspeelrondes te hê laat ʼn mens so effens lekker kry nadat ons deur Nieu-Seeland en Australië ‘uitgewerk’ is.

Dit is ʼn grootse prestasie as ʼn mens dink aan van die wêreld se heel voorste talent wat oorsee rugby speel en nie vir die Stormers, Bulls, Sharks of Lions oorweeg kon word nie. Dit sluit 17 Bokke van ons wengroep van 2019 in (Willie le Roux, Cheslin Kolbe, Damian de Allende, Jesse Kriel, Handré Pollard, Faf de Klerk, Cobus Reinach, Malcolm Marx, Trevor Nyakane, Vincent Koch, RG Snyman, Eben Etzebeth, Lood de Jager, Pieter-Steph du Toit, Franco Mostert, Kwagga Smith en Duane Vermeulen).

Die grootste plus vir Suid-Afrikaanse rugby wat uit die VKR-reeks gekom het, is ongetwyfeld die rits spelers wat die afgelope twee, drie jaar eers op die voorgrond getree het en nou wasdom bereik het. Van hulle was nie te lank gelede nie nog onbekendes, maar is nou net ʼn trappie of twee weg van toetsrugby. En daar is ʼn hele paar swart spelers wat hul hand hoog opgesteek het om in die voetspore van grotes soos Beast Mtawarira, JP Pietersen, Chester Williams, Bongi Mbonambi, Siya Kolisi, Lukhanyo Am, Makazole Mapimpi en Cheslin Kolbe te volg.

Die Lions het sewe drieë teen die Ospreys gedruk. (Foto: GB Jordaan)

Wat die vertonings van ons vier spanne veral lekker maak, was hul vermoë om die uitdagings te oorkom van die onbekende velde vir wegwedstryde, die soms bittere koue en ook sterk winde, die reëlvertolkings, die reisaanpassings en ook die fyn balansering om feitlik gelyktydig sake om die Curriebeker uit te spook.

Die Lions het swak weggespring en nie die kwarteindronde gehaal nie. Hul spanbouproses is boonop deur die vertrek van hul spelers na ons eie franchise’e, en óók na vele groot betalers oorsee, gekortwiek.

En moenie die Lions wat nie die kwarteindronde gehaal het, te lig kyk nie. Ná vyf opeenvolgende wegneerlae, vier van hulle oorsee en ook teen die Stormers, het Cash van Rooyen-hulle ses van die oorblywende agt Europese spanne geklop, met net drie punte teen Connacht verloor en Leinster op sy tuisveld laat uithaal (13-21).

▪ Vyf oorwinnings in hulle laaste ses wedstryde beloof veel vir die 2022/23-reeks wat in Augustus begin.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.