Mening: Uitblinkers in rugby, netbal het self groot uitdagings in 2020

Duisende inwoners van Kaapstad het die Suid-Afrikaanse rugbyspelers ingewag om die Webb Ellis-trofee van nader te beskou. Die Springbokke se trofeetoer het Maandag geëindig. (Foto: Henk Kruger, AP)

Dis dié tyd van die jaar wanneer ʼn mens terugdink aan dinge wat gebeur het en wat voorlê.

Nou, ná ʼn mens so effens oor die nadraai van die Wêreldbeker-euforie is en met minder emosie oor Suid-Afrikaanse rugby begin dink, duik ʼn klompie vrae en waarskuwingstekens by jou op.

Dit word méér so as jy ʼn bietjie verder dink aan die gemors wat met ons krieket aangaan, die voortgesette sotlikhede wat die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) dikwels aanvang en ook die dinge wat hulle nié doen nie.

Kom ons begin by die rugby. Een van die heel lekkertes is die skielike stilte op die sosiale media van die klomp (meestal onkundige!) beterweters wat gekerm het oor Rassie Erasmus, sy spankeuses, spelpatroon, voorbereiding, verdedigingspatroon en beplanning, en wat op bra onvleiende wyse na van die spelers verwys het.

Drie van die mees verguisde spelers was moontlik dié helde van die Springbokke se Wêreldbeker-veldtog: Cheslin Kolbe (wat pas aangewys is as die voorste speler in die Franse Top14), Damian de Allende wat allerweë deur kenners en teenstanders as die beste senter by die WB uitgesonder is, en Makazole Mapimpi wat nou 14 drieë in 14 toetse gedruk het.

Maar kom ons vergeet van die vreugde en trots wat steeds daar is en dink aan die uitdagings wat vir rugby en ʼn paar ander voorste Suid-Afrikaanse sportsoorte vorentoe wag.

RUGBY

Superrugby

Eerstens is daar ons Superrugby-franchise’e wat sal swaar trek. In 2020 sal net 14 van die 33 Wêreldbeker-Bokke (onder andere Jesse Kriel en Trevor Nyakane wat weens beserings vervang is) Superrugby speel. Net agt van die eindstryd-23 (Mapimpi, Lukhanyo Am, Herschel Jantjies, Steven Kitshoff, Bongi Mbonambi, Frans Malherbe, Siya Kolisi en Pieter-Steph du Toit) speel nie hul rugby oorsee nie of het nie uitgetree nie.

Van die oorblywende tien – die sogenaamde Bomb Squad – sal ses wel Superrugby speel, naamlik Thomas du Toit, Damian Willemse, S’bu Nkosi, Trevor Nyakane, Warrick Gelant en Elton Jantjies.

Hoe sal dit met ons franchise’e in die Superreeks gaan? Ja, die spanne van Nieu-Seeland, Australië en Argentinië is ook swaar deur ʼn uittog van spelers getref, maar in Suid-Afrika is daar boonop die onsekerheid oor die afrigters.

Drie van die vier franchise’e se hoofafrigters het nog nie hul ding op Superrugby-vlak gedoen nie. Hoewel Cash van Rooyen darem al noodgedwonge kortstondig by die Lions moes instaan, is hy (soos die Sharks se Sean Everitt en John Dobson van die Stormers) ʼn groentjie op dié vlak. Die Bulls se Pote Human het darem al een seisoen se ervaring as afrigter op dié vlak agter die rug.

Springbokke

ʼn Nuwe afrigter moet aangestel word.

Daar moet ook opnuut onderhandel word oor die beskikbaarheid vir toetse van die klomp Suid-Afrikaanse spelers oorsee – en daar is nou meer manne met topervaring as die afgelope twee jaar wat hul brood oorsee verdien en wat vir ons toetsspan noodsaaklik is.

Benewens die twee toetse teen Skotland en een teen Georgië in Julie is daar natuurlik nog die ses toetse in die Rugbykampioenskap (twee elk teen die All Blacks, die Wallabies en die Poemas) plus die gewone (seker vier) jaareindtoetse wat nog nie bepaal is nie.

NETBAL

Naas die Springbokke se Wêreldbeker-triomf was die nasionale netbalspan die ongetwyfelde tweede beste Suid-Afrikaanse sport.

Die Proteas het in Julie binne twee doele van die Wêreldbeker se eindstryd gekom, maar is toe in die uitspeelwedstryd om die bronsmedalje oortuigend deur Engeland geklop met 58-42.

Maar, soos dit maar in Suid-Afrika gaan, is die grootste teleurstelling in dié sport seker maar ook oor wat ván die baan af aangaan (of is dit dalk meer korrek om te sê nie aangaan nie?)

Die netbalprovinsies is in die duister oor die pad vorentoe. Dit sluit in riglyne vir die pad na die 2023 Wêreldbeker-toernooi en selfs vir aanstaande jaar se plaaslike toernooie – en die antwoorde word gesoek by die president van Netbal Suid-Afrika, Cecilia Molokwane.

Daar is glo boonop ʼn saak by AfriForum aanhangig gemaak oor haar optrede in Augustus by die nasionale toernooi wat na bewering spruit uit wangedrag en opmerkings wat op ras gegrond is.

Intussen is Molokwane pas tot die raad van Saskok verkies. (Nie juis ʼn pluimpie vir enigeen van die twee partye nie!)

 SWEM

Die Suid-Afrikaanse swemmers het vanjaar by die Wêreldkampioenskappe in Suid-Korea net met drie medaljes teruggekeer. As span het hulle 15de geëindig, met die enigste goue medalje wat deur Zane Waddell in die 50 m-rugslag gewen is.

Tatjana Schoenmaker, wat reeds die lekker van twee goues by verlede jaar se Statebondspele ervaar het, het in die 200 m-borsslag ʼn silwer medalje by haar versameling gevoeg en Chad le Clos het in die 100 m en 200 m-borsslag vir twee bronsmedaljes gesorg.

Laasgenoemde twee het selfs goue medalje-kanse by die 2020 Olimpiese Spele, maar Waddell se uitblinknommer is ongelukkig nie op die program nie. Die mans-rugslag word in Tokio net oor 100 m en 200 m geswem.

Dit gaan tans nie te goed met Suid-Afrikaane krieket nie. (Foto: Michael Sheehan/AP)

KRIEKET

Wil ʼn mens regtig oor SA krieket praat?

Wat die mense wat dié spel bestuur daar aanvang en in net so ʼn mate ook nalaat, is onbegryplik en ongelooflik.

Dit kan net een gevolg hê, naamlik dat dit die span negatief sal beïnvloed. Of dít saak sal maak, weet nugter, want die span wat reeds op 26 Desember op Centurion in die eerste van drie toetse moet speel, sal nie noodwendig die land se beste wees nie.

En nou kyk ʼn mens maar hartseer (maar darem ook met so ʼn klein bietjie trots) wat twee Suid-Afrikaners die afgelope twee weke gedoen het.

Ons ignoreer boonop vir BJ Watling (hy is darem al 24 jaar gelede as 10-jarige na Nieu-Seeland en het verlede naweek vir die Kiwi’s 205 teen Engeland geslaan), maar Marnus Labuschagne het 185 vir die Aussies teen Pakistan aangeteken; en Dawid Malan het in verlede maand se T20-reeks teen die Kiwi’s nege viere en ses sesse (72 lopies) vir Engeland in sy honderdtal van 103 n.u.n. in 51 balle geslaan.

Voeg by hulle die voorste bouler in Engelse graafskapkrieket Simon Harmer. Die oud-Protea het met sy draaiballe twee jaar gelede 9/95 in ʼn kolfbeurt in die graafskapliga geneem en het ses weke gelede sy span Essex tot die Engelse T20-titel aangevoer. Hy het op Finals Day, wanneer die halfeindstryde en die eindstryd besleg word, sewe paaltjies geneem – die meeste nóg. Harmer het vanjaar ook die meeste paaltjies in die graafskapreeks geneem.

 

Daar is nog vele ander wat oorsee uitblink, en die boodskap bly dieselfde: dis hartseer dat soveel van ons bestes oorsee gaan speel het – en ons krieket is, op en veral van die veld af, nie op standaard nie, met hul afwesigheid wat saam met die wanadministrasie ons vertonings boonop ook negatief tref.

Hopelik is Wayde van Niekerk fiks vir volgende jaar se Olimpiese Spele.. Foto: ANA.

ATLETIEK

Die kanse vir atletiekmedaljes aanstaande jaar by die Tokio Olimpiese spele is maar skraal.

Ná die relatiewe goeie vertonings by die 2016 Olimpiese Spele toe die Suid-Afrikaanse atlete Luvo Manyonga en Sunette Viljoen albei ʼn silwermedalje gewen het en Wayde van Niekerk en Caster Semenya elk ʼn goue, was daar vanjaar nie ’n enkele SA medaljewenner by die Wêreldkampioenskappe nie. Daar was darem twee vierde- en drie vyfde plekke.

In 2015 se Wêreldkampioenskappe, voor die 2016 Rio Spele, het Anaso Jobodwana ʼn brons medalje in die 200 m gewen, Wayde van Niekerk goud in die 400 m en Sunette Viljoen het, soos feitlik altyd, vir ʼn medalje – dié keer brons – in die spiesgooi gesorg.

Miskien is Wade aanstaande jaar fiks en slaggereed, miskien gaan Caster tóg toegelaat word om in die 800 te hardloop … maar moenie vir vele medaljes in Tokio asem ophou nie.

SASKOK 

Die weë van die Suid-Afrikaanse Sportkonfederasie en Olimpiese Komitee (Saskok) is duister, maar is darem uit ʼn negatiewe oogpunt gesien, konsekwent. 

Dié keer is dit Suid-Afrika se vroue-sewesrugbyspan wat vir aanstaande jaar se Olimpiese Spele-toernooi in Japan gekwalifiseer het deur die Afrika-toernooi op ʼn drafstap te wen, maar wat egter nie deur Saskok in Suid-Afrika se span na die Olimpiese Spele ingesluit sal word nie.

Dit word maar stilgehou oor watter ander sporte en spanne met minder verdienste wel Saskok-toestemming sal kry om Tokio toe te gaan.

Albei Suid-Afrika se hokkiespanne sal darem in Tokio aanmeld. Die mans speel in groep B teen België, Nederland, Duitsland, Brittanje en Kanada. Die vroue kom in hul groepfase teen Brittanje, Nederland, Duitsland, Ierland en Indië te staan.

Dit sal die mans én die vroue se vyfde deelname aan ʼn Olimpiese Spele wees.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae